Die rooftog by Sterns die afgelope Dinsdag (14 Mei) het weer eens bewys hoe die sakekern dag ná dag verval in ’n misdaad-gedrewe gebied wat potensiële klante elders dwing.
Dikwels word die verdagtes wat die winkels beroof nie vasgetrek nie, en duisende rande se voorraad verdwyn spoorloos terwyl besigheidseienaars nóg geld aan sekuriteit moet bestee.
Nietemin het die Paarl-polisie – asook ’n private maatskappy – daarin geslaag om die drie verdagtes vas te trek ná vandeesweek se rooftog, terwyl een nog voortvlugtend is.
Dít bring tog ’n greintjie hoop en bewys weer dat samewerking tussen die polisie, sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte belangrik is om misdaad te bekamp.
Daar is voorheen berig oor die vervalle Paarlse middedorp, en hoe misdaad maand ná maand toeneem, terwyl talle gevra het hoeveel van dié voorvalle weens nalatigheid van Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassers is, en hoeveel weens swak sekuriteit van die winkels is.
Dié vraag bly immers steeds onbeantwoord, terwyl die munisipaliteit vrae rondom die kwessie ontduik en die teenwoordigheid van wetstoepassers in die gebied maar skraps lyk.