Paarlse meisie in nuwe TV-reeks

Die 10-jarige Milan van Vuuren van die Paarl “pronk” deesdae op die kassie as deel van ’n nuwe KykNet-televisiereeks.

Milan van Vuuren


Die 10-jarige Milan van Vuuren van die Paarl “pronk” deesdae op die kassie as deel van ’n nuwe KykNet-televisiereeks.

Milan vertolk die rol van Olica Retief in die reeks genaamd Pronk Primêr, wat elke week sedert 1 Julie op DStv-kanaal 144 te sien is.

“Dit is so awesome! Ek is baie dankbaar dat ek die geleentheid gekry het. Ek het middel verlede jaar by Natasha van Stage Door Studio begin om drama te doen en net ná ons jaareinde-opvoering het sy genoem dat sy graag ’n video-oudisie wil instuur vir die rol van Olica Retief in die nuwe reeks Pronk Primêr. Ek is daarna genooi om ’n oudisie te kom doen.”

Milan praat met groot opgewondenheid oor haar ervaring met die verfilming van Pronk Primêr. Dit is die eerste keer dat sy deel van só ’n produksie is.

“Ek het daarvan gehou om saam met die ander akteurs te werk – hulle het soveel meer ondervinding as ek en is legends in die bedryf. Party mense werk regtig hard agter die skerms – iets wat ons nooit op TV sien nie. Dit was ook lekker om saam met die ander jong akteurs te werk, soos Condré Scholtz, wat Duane speel, en Ruanko Ueckermann, wat Peach speel. Hierdie is definitief my grootste droom wat waar geword het.

“My karakter is Olica Retief, die dogter van Olivia en Carel Retief. Haar ma is die skoolsielkundige van Pronk Primêr en haar pa is ’n megaboer naby die dorp. Sy is hoofmeisie en is goed in atletiek en wil die 400 m-rekord verbeter.

“Sy is baie mededingend en in van die gevalle nogal stout! Pronk Primêr gaan oor onderwysers wat almal as kind in die skool was en nou as onderwysers daar werk. Dit is regtig skerp komedie en mense sal lekker lag as hulle dit kyk.”

Dié graad 5-leerder aan Green School SA meen sy sal baie graag eendag verder in die bedryf as ’n akteur wil werk.

“Dit sal lekker wees; ek hou daarvan en dit kom vir my natuurlik.”

Klein Milan praat ook met groot lof oor haar ouer boetie en haar komvandaan.

“Ek het ’n baie oulike 12-jarige boetie, Oliver, wat downsindroom het, maar dit maak hom meer awesome en ek sal hom altyd liefhê, want hy is my klein held. Ek woon in die Paarl en is in Pretoria gebore.

“Ons het op 1 Desember verlede jaar Kaap toe getrek. Ek speel touch rugby by die skool en doen ook drama daar, asook karate. Ek neem ook klavierlesse by Juffrou Lize en is ’n groot Taylor Swift-aanhanger.”

Haar ouers, Rayno en Lynn van Vuuren, is verskriklik trots op hul dogter.

“Sy het hierdie hele ding op haar eie aangepak en ons almal verbaas. Om met min ondervinding en ’n eerste probeerslag so iets te doen, wys ’n mens net dat sy ’n natuurlike aanvoeling het vir drama en teater, en as jy jou kind gelukkig sien, dan is jy ook gelukkig!”

Milan se ouers beskryf haar as iemand wat baie energiek en spraaksaam is, met ’n hart van goud.

“Dit is vir ons altyd ongelooflik om te sien hoe sy ander mense se emosies aanvoel. Dit is vir seker omdat sy al van kleins af moes deal met Oliver wat downsindroom het. Milan is regtig ongelooflik met hom en die manier hoe sy na hom kyk en vir hom opkom, vandat sy al baie klein is, maak ons harte baie gelukkig. Sy is amper oud voor haar tyd. Sy het ongelooflik baie energie, en om met haar te gesels, is vir ons ’n plesier – ons kan lekker vir haar lag. Sy kan dinge partykeer op so ’n manier verduidelik dat ek aan haar lippe hang.”

Milan was onlangs deel van haar skool se teaterproduksie Waiting for Godot, wat in die Ou Meul-teater in die Paarl op die planke was.

Sy is in September weer terug op die planke by die einste teater waar sy twee rolle in Wizard of Oz sal vertolk.

You need to be Logged In to leave a comment.