Tylo Fortuin (26), ’n sangeres en onderwyseres van die Paarl, is vandeesweek ná ’n kort siekte oorlede. Foto: Verskaf


Tylo Fortuin (26), ’n sangeres en onderwyseres van die Paarl, se naasbestaandes sê sy gaan onthou word vir haar goue stem, aansteeklike energie en omgeehart, nadat dié jong leerkrag van die Groendal Sekondêre Skool in Franschhoek vandeesweek ná ’n kort siekte oorlede is.

Fortuin se familie het in ’n verklaring gesê sy is Maandag (20 Mei) omstreeks 04:30 in die Mediclinic-hospitaal in die Paarl oorlede.

Die familie het nie uitgewei oor die omstandighede en oorsaak van haar afsterwe nie.

’n Bron na aan die familie het aan Paarl Post bevestig dat sy om gesondheidsredes in die hospitaal opgeneem is.

“Tylo was ’n bondeltjie vreugde wat altyd geluk uitgestraal het. Sy het ’n aansteeklike gees gehad wat enigeen se bui kon lig.

“Sy was ’n sosiale mens wat altyd gefloreer het in die geselskap van ander, en moeiteloos verhoudings gebou en warmte versprei het waar sy ook al gegaan het. Almal het haar liefgehad vir haar opregte openheid en opregtheid, eienskappe wat mense laat voel het dat hulle waardeer en verstaan word,” lui die verklaring deur haar familie.

Die Groendal Sekondêre Skool in Franschhoek, waar sy ’n opvoeder was, het ook in ’n Facebook-inskrywing hulde aan haar gebring.

“Dit is met diep hartseer dat ons afskeid neem van ’n werklik geliefde kollega, onderwyser en vriend. Jou sprankelende persoonlikheid het die lewe van elke mens wat met plesier met jou kennis gemaak het, verryk.

“Jou vriendelike aard en toegewyde benadering as ’n onderwyser sal lank dien as ’n maatstaf in die geskiedenis van ons skool. Mag jou soet siel in ewige vrede rus.”

Fortuin het ’n graad in teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Buiten haar loopbaan as opvoeder het Fortuin sedert haar jongdae haar stem gebruik om nie net mense te vermaak nie, maar het sy ook gereeld gospelliedjies gesing.

Sy het in haar tyd die verhoog gedeel met immergewilde kunstenaars soos Karin Kortje, Elwira Standili, Robin Pieters, Donvino Prins en Loren Erasmus.

Een van die kunstenaars wat haar onder sy vlerk gehad het, was Basil Appollis, die bekroonde akteur, vervaardiger en skrywer.

Appollis het vandeesweek aan Paarl Post gesê hy sukkel nog om Fortuin se afsterwe te verwerk.

“Ek het nie eens regtig woorde nie. Sy was nog so jonk – haar hele toekoms voor haar gehad. Ek het Tylo so te sê sien grootword en groei. Ek het haar gereeld gesien as ek by my familie in Charleston Hill gaan kuier het.

“Dit was eers later toe ek besef het watter pragtige stem en wonderlike persoonlikheid sy het. Dit is toe ek haar betrek het by ’n produksie wat ek en Karin Kortje gedoen het,” het Appollis verhaal.

Hy sê: “Tylo het nooit teruggehou nie.

“Dit maak nie saak met wie sy die verhoog gedeel het nie – sy het altyd haar alles gegee. Sy het gesing saam met bekendes soos Karin en Elwira. Sy was egter nooit skaam nie.”

’n Roudiens vir Fortuin word vir Donderdag (23 Mei) om 18:30 by die Noorder-Paarl Hoërskool gehou.

Sy word Sondag (26 Mei) om 11:00 uit die St Stephen’s Anglikaanse kerk in New Orleans in die Paarl begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.