Yusr Abrahams (12) van die Paarl het Suid-Afrika omtrent aan die gons gehad waar hy in ’n video gesien word waar hy só opgewonde raak tydens die halfeindronde van die Rugbywêreldbeker dat sy ma vir hom suikerwater ingejaag het.
Yusr kom van Las Vegas ‘n buurt in Paarl-Oos, en gaan skool by die Laerskool Drakenstein, waar hy in graad ses is.
Hy het bekendheid verwerf, veral onder sy skoolmaats, in ’n video wat onlangs op sosiale media gedeel is waar hy geskree het “ons [die Springbokke] is deur [na die rugbywêreldbeker se finale wedstryd], ons is deur”.
Die video het soos ’n veldbrand versprei met baie Suid-Afrikaners wat hulle met dié jong Paarliet se emosies kon vereenselwig nadat die Springbokke die Engelse Rose met net een punt geklop het.
Die naelskraapse halfeindwedstryd, waar Suid-Afrika teen Engeland gespeel het, het vele Suid-Afrikaners op die punt van hul sitplekke laat sit, maar Yusr was só opgewonde dat hy ná die gehuil en geskree eers ’n sitplek op die vloer moes inneem om asem te skep.
Volgens sy ma, Nabielah Abrahams, was die wedstryd “vreeslik stresvol” vir Yusr, maar het hy die heeltyd gesê “die Springbokke gaan wen”, en toe het niks gebeur nie, maar tóé gebeur dit wel.
Ná RG Snyman se drie en Handré Pollard se skop was die opwinding en afwagting immers net te groot, en het Yusr “benoud geraak en baie warm gekry”, sê hy.
Dit is toe dat hy sy hemp deur sy trane uitgetrek en op die grond gaan sit het, waarna sy tannie gesê het sy familie moet vir hom suikerwater bring vir die skok.
Hy het die stresvolle rugbywedstryd in sy ouerhuis saam met sy ma, pa, tannie, ouma en niggie, wat die video geneem het, gekyk.
Volgens Nabielah het dit ’n rukkie geneem vir haar seun om rustig te raak, en het hy eers begin asem skep nadat sy gesin hom na buite gevat het, waar hy vars lug ingeasem en gesien het hoe die hele buurt in die strate saamdrom en juig van blydskap.
Volgens Yusr wil hy graag eendag ’n sokker- of rugbyspeler wees en speel hy tans vir sy skool se hokkiespan en draf ook uit vir ’n plaaslike sokkerklub.
Volgens ’n Netwerk24-berig wat op 24 Oktober gepubliseer is, is Yusr se gunstelingrugbyspeler Cheslin Kolbe, en hy sê hy wil ook graag vir Pollard ontmoet.
Die familie beplan om die komende naweek weer saam rugby te kyk wanneer die Bokke teen Nieu-Seeland in die Wêreldbeker-eindstryd speel.
Teen druktyd was die Facebook-plasing wat die video bevat, reeds 590 keer gedeel, en het selfs op 23 Oktober op KykNet & Kie verskyn.