Laurinda Hofmeyr tree op in twee besonderse opvoerings by vanjaar se Woordfees in Stellenbosch.


In die produksie -LOOS pak Laurinda Hofmeyr en Joanie Combrink verlies en die invloed daarvan op die mens met musiek, sang en woordkuns.

Die stuk, waarin die digkuns van talle Afrikaanse digters vervat is, debuteer eers op die Aardklop-kunstefees en daarna by die Toyota Stellenbosch Woordfees, waar dit op 5 en 6 Oktober opgevoer word.

Hofmeyr is ’n bedrewe pianis en sanger van die Paarl, veral bekend om toonsettings van Afrikaanse poësie.

Combrink is al sedert die 1980’s deel van die kunstewêreld as aktrise en woordkunstenaar. Sy is tans te sien in die KykNet-reeks Een keer om die son.

LOOS is saamgestel deur Libby Daniels, wat ook die regie behartig, bevat toonsettings en sang deur Hofmeyr en voordrag en vertolking deur Combrink oor die tema.

Benewens werke van Antjie Krog, Olga Kirsch, Breyten Breytenbach en Marlene van Niekerk bevat die program ook onder meer toonsettings van Fanie­ Olivier, Eugène Marais en George Weideman se werk, en gedigte van onder andere Barend­ Toerien, Petra Müller, Sheila Cussons, Elisabeth Eybers­ en Ina Rousseau word voorgedra.

Die werke in dié produksie fokus egter nie net op die hartseer van verlies nie, maar ook op die skoonheid van dit wat eens was.

-LOOS is op 5 Oktober om 17:00 en op 6 Oktober om 11:10 in die Drostdy-teater op die planke.

Geen kinders onder 16 word toegelaat nie. Kaartjies is beskikbaar by Quicket­.

Laurinda tree ook op by die Woordfees in Uit die argiewe: Andrew Murray – Untold story of a vulnerable father”. Dit handel oor die briewe van die bekende skrywer Andrew Murray (1828-1917), geskryf aan sy kinders, en vertel aangrypend van ’n praktiese vaderliefde gedurende lewenskrisisse.

Dr. Isabel Murray, Richard Hollaway en Cecile Murray-Louw lewer voorlesings en vertellings.

Vyf Andrew Murray-aanhalings wat deur Laurinda getoonset is, word deur haar in die opvoering gesing, bygestaan deur Schalk Joubert op baskitaar.

Uit die argiewe vind plaas in die Kapel van die fakulteit teologie in Stellenbosch op 3 Oktober om 10:00 en later dieselfde dag om 17:00.

Bespreek by Quicket.

You need to be Logged In to leave a comment.