Jacky Goliath, besturende direkteur van die De Fynne-kwekery buite die Paarl, was lid van ’n span wat onlangs goud gewen het toe hulle Suid-Afrika by die Royal Horticultural Society se Chelsea-blommeskou in Londen verteenwoordig het.
Suid-Afrika se uitstalling het die diversiteit van die Kaapse blommekoninkryk ten toon gestel.
“Dit is so opwindend. Hierdie jaar het die Suid-Afrikaanse span bestaan uit verskillende mense wat geglo en gesien het die Chelsea-blommeskou moet eenvoudig Suid-Afrikaanse blomme ten toon stel.
“Ons is baie goed ontvang. Onthou, Suid-Afrika het weens die pandemie en uitdagings met finansiering in 2019 laas aan die skou deelgeneem. Mense was so bly om te sien Suid-Afrika is terug. Sommige was in trane – hulle het huis toe verlang.
“Ons blomme het ver bo die res uitgestaan. Jy weet mos ’n Protea is net iets anders,” het Goliath vandeesweek aan Paarl Post gesê.
Proteas, speldekussings en tolbosse – alles blomme wat inheems is aan Suid-Afrika – was deel van die Suid-Afrikaanse span se aanbieding.
“Dit was ’n kombinasie van fynbos en inheemse plante. Die beoordelaars kyk na die gehalte van jou blomme, die aanbieding en die storie wat jy wil vertel. Ons het 100% in al die afdelings gekry. Ons het ook – en dit het nog nooit in die geskiedenis van Suid-Afrika se deelname aan die skouspel gebeur nie – toekennings ontvang vir die beste uitleg asook uniekheid.”
Een van wêreld se grootste
Die Royal Horticultural Society het sy eerste blommeskou in 1913 op die terrein van die Royal Hospital Chelsea in Londen gehou, en dit het sedertdien een van die wêreld se grootste uitstallings van tuinbou-uitnemendheid geword. Meer as 150 000 besoekers van oor die wêreld heen stroom jaarliks na die skou om die uitstallings te bekyk en te beruik.
Suid-Afrika het in 1976 die eerste keer aan die skou deelgeneem en het oor die jare tot 2019 altesaam 37 goue medaljes gewen.
Die Covid-19-pandemie het egter ’n paar takkies geknak en Suid-Afrika was die afgelope vier jaar nie by die skou nie.
Vanjaar word die land se blommeprag egter weer verteenwoordig danksy nuwe borge en ’n samewerkingsooreenkoms tussen die Wes-Kaapse regering en Cape Flora SA (CSFA).
Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse LUR vir landbou, het Suid-Afrika se hernude deelname aan die skou verwelkom.
“Ons deelname sal die unieke fynbos van die Wes-Kaap ten toon stel, en met die potensiële toename in die uitvoer van fynbos-snyblomme sal meer werksgeleenthede geskep word. Kommersiële en nuwe boere sal daarby baat vind,” het hy in ’n verklaring gesê.
Fynbos-snyblomme is een van die Wes-Kaap se inkomste-genererende uitvoerprodukte. Kaapse flora verteenwoordig 90% van Suid-Afrika se snyblomuitvoere en verskaf inkomste aan baie gemeenskappe in landelike gebiede.
Vars snyblomme het in 2023 op die wêrelduitvoermarkte beter as gedroogde blomme gevaar en is gewaardeer op R85 miljard teenoor R10 miljard vir gedroogde blomme.