Die bekende Paarlse barista en radio-omroeper Dillon Martin, wat ongeveer ’n jaar en ’n half gelede ’n nuwe koffie-tuiste in Doha gevind het, het pas derde geëindig in Katar se nasionale baristakampioenskap.
Dillon is al jare in die koffiebedryf en voor sy vertrek na die vreemde was hy aan die stuur van die plaaslike koffie-roostery in die Paarl, AfriRoast – dít alles terwyl hy ook as omroeper by die gemeenskapsradiostasie PaarlFM gewerk het.
Hy het vanweë sy entoesiasme oor koffie gereeld sy koffiestories en ondervindings op die professionele sosialemediaplatform LinkedIn gelaai.
Iemand het só bewus geword van Dillon en vroeër vanjaar het die eienaar van ’n koffiemaatskappy in Doha hom direk gekontak en ’n geleentheid aangebied wat hy nie van die hand kon wys nie.
Dit is hoekom Dillon verlede jaar Doha toe gevlieg het, waar hy as hoof van koffie-rooster, gehaltebeheer, barista-opleiding, ’n koffiekonsultant en koffie-invoerder by die grootste koffie-onderneming in Katar aangestel is.
Die kompetisie het van 14 tot 16 September by die Katar- nasionale koffie-uitstalling plaasgevind, waar reusagtige koffie-uitstallings van sommige van die wêreld se heel grootste koffiemaatskappye teenwoordig was.
Die hoofaantrekking, sê Dillon, was egter die nasionale koffie-kompetisie.
Dit was senutergend en uiters mededingend, vertel Dillon verder.
Hy moes op ’n kol vier espresso’s, vier melkbasiskoffies en vier kenmerk-koffies brou, en dit alles terwyl hy deurgans die proses waarmee hy besig was, verduidelik het.
Dit alles moes binne net 15 minute geskied.
Deelnemers se koffie-brouvermoë is ook op die proef gestel asook hul kennis van koffiebone, die lande waar dit geplant en geoes word, verskeie tegnieke om die bone voor te berei vir gebruik – smaak, geur en kleur; baie soos met wyn proe.
Dillon sê hy het glad nie verwag om derde te eindig uit die 34 baie ervare en bevoegde baristas nie.
“Dit was ’n baie intense kompetisie en jy moes behoorlik jou storie ken.”
Dillon sê hoewel die koffie-kultuur in Katar redelik nuut is, groei dit geweldig en raak dit by die dag meer gewild.
Hy sê ook koffieliefhebbers daar het baie hoë standaarde.


