Die gemeenskap in Lemoenkloof, Paarl, is verdeeld oor die nuwe eetplek Athena’s wat beoog word om in die Jock de Villiers-gebou te open in die winkel waar Dot Pastries eens was.
Athena’s, soos die eetplek genoem sal word, word deur een van die eienaars, Llewellyn Lategan, beskryf as ’n “sport-restaurant” wat kindervriendelik sal wees.
Die Lemoenkloof-gemeenskap, onder die leiding van Walter Vos, bevraagteken egter die motief vir ’n restaurant in die buurt.
Vos het namens Lemoenkloof-inwoners ’n aanlyn petisie begin met reeds meer as 100 handtekeninge, terwyl hy ook in September by die Drakenstein-munisipaliteit besware teen Athena’s aangeteken het. Die DM moet dit nou aan die Wes-Kaapse Drankowerheid voorlê.
Volgens hom skuil Athena’s, wat die buurt glo net ’n kroeg sal wees, onder die vaandel van ’n “sport-restaurant”.
Vos beweer dat Athena’s se opening die stilte van die buurt sal versteur.
Lategan hou egter vol dat Athena’s nie ’n kroeg sal wees nie, maar ’n restaurant wat verskeie sportsoorte op TV-stelle in die eetplek sal aanbied.
Op die spyskaart sal onder meer burgers, schnitzels asook kosmandjies met vleis, hoenderstukke en tjips onder die leiding van die sjef, Wikus Potgieter, voorgesit word.
Nog een van Vos se besware is dat Athena’s ’n dranklisensie-aansoek ingedien het vir ’n kroeg en nie ’n restaurant nie, wat volgens Vos beteken dat die eetplek onder vals voorwendsels adverteer as ’n restaurant om die Lemoenkloof-gemeenskap gerus te stel.
Lategan weerlê egter die bewering, en verduidelik dat die aansoek om ’n dranklisensie verkeerdelik deur die restaurant se regsverteenwoordiger by die Drakenstein-munisipaliteit as ’n sportkroeg ingedien is, maar sê ’n regstelling sal binnekort volg.
“ ’n Aansoek om ’n dranklisensie is by die Drakenstein-munisipaliteit ingedien. Sover die munisipaliteit se inligting strek, gaan die aansoeker die aansoek verander na ’n restaurant in stede van ’n sportkroeg,” volgens Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende hoof van korporatiewe en beplanningsdienste.
“Die omliggende gebied rondom die Jock de Villiers-gebou val binne die plaaslike sake- en konvensionele behuisingsones.
“Die Jock de Villiers-perseel is gesoneer as ’n plaaslike onderneming, maar die gebruik daarvan, wat hersoneringsvoorwaardes betref, is beperk tot sakegebruik aan die voorkant en kantore aan die agterkant, wat nie ’n kroeg insluit nie.
“Derhalwe beskik die perseel nie oor die nodige regte om ’n kroeg te bedryf nie,” het Johaar gesê.
As gevolg van hierdie sonering en die feit dat die aansoek om ’n dranklisensie weer ingedien moet word om die aansoek vir ’n sport-restaurant en nié ’n sport-kroeg nie te weerspieël, sal Athena’s nie op 1 November kan oop- maak soos oorspronklik deur Lategan en sy vennote beoog is nie, het die munisipaliteit bevestig.
Volgens Lategan blyk die opening van Athena’s onseker met geen onmiddellike datum in gedagte voordat al die prosesse goedgekeur is nie.
Volgens Vos maak dit nie saak of Athena’s ’n restaurant of kroeg sal wees nie, omdat albei sakevorms ’n demper op die Lemoenkloof-woonbuurt sal plaas.