Dié besluit ondermyn Suid-Afrika se demokrasie. Só sê Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie en ‘n Paarl-inwoner, ná agt lyfwagte van adj. pres. Paul Mashatile onlangs in ‘n interne tugverhoor vrygepsreek is. Hulle het in 2023 glo vier weermaglede aangerand.
Die agt lyfwagte, wat Cameron as “boewe” bestempel het, het na bewering op 2 Julie 2023 vier insittendes van ‘n blou Volkswagen Polo op die N1-snelweg in Fourways, Johannesburg, aangerand. Die Volkswagen is blykbaar deur die lyfwagte tot stilstand gedwing, omdat hulle nie gou pad gegee het vir ‘n BBP-konvooi wat Mashatile vervoer het nie.

Die lyfwagte, wat polisiebeamptes is, is Shadrack Kojoana, Johannes Mampuru, Pomso Mofokeng, Hermans Ramokhonami, Phineas Boshielo, Churchill Mkhize, Lesibana Rambau en Moses Tshidada. Hulle is op 7 April vanjaar gedurende ‘n interne tugverhoor van alle klagtes vrygespreek.
Die rede vir hiérdie uitspraak, volgens ‘n artikel deur Rapport op 11 Mei, “Dís hoekom Mashatile se wagte vrygespreek is“, is omdat die regter, kol. Mashabela, nie die geloofwaardigheid van ‘n video van die gebeure wat deur ‘n lid van die publiek afgeneem is, kon verfieer nie.
Cameron het aan die Paarl Post gesê dat dit vir hom “interessant” is dat brig. Thulani Shabalala, die ondersoekbeampte, nie die video tydens die interne tugverhoor toegelaat het as bewysstuk nie, maar dat die regter van die landdroshof in Randburg, waar die agt lywagte tereg staan op aanklagte van aanranding om ernstig te beseer, kwaadwillige saakbeskadiging, die onwettige rig van ‘n vuurwapen, asook roekelose en/of nalatige bestuur, wel die video toegleaat het.
Shabalala was Bheki Cele, voormalige minister van polisie, se lyfwag asook strooijonker tydens sy troue in 2010, het die Sunday Times in Julie 2011 berig.
Hy het na dié troue glo die pos as hoof van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) se beskermings- en veiligheidsdienste aanvaar. Dit het destyds groot reaksie ontlok waarna die publiek vir Cele beskuldig van kaderontplooiing.
Cameron voer aan dat Mashabela die tugverhoor “manipuleer om ‘n verskoning te soek sodat die video nie toegelaat word” as bewysstuk nie.
“Dit [die video] is in Mei 2024 toegelaat as bewysstuk in die [landdros]hof [in Randburg], en daar was nie ‘n rede verskaf deur die regter dat die oorspronklikheid daarvan eers vasgestel moet word nie,” het Cameron gesê.
Volgens Cameron skep die uitspraak van die tugverhoor ‘n slegte presedent as beslissings gemaak word wat teenstrydig is met die hoër howe.
“As die hof dit toelaat, hoekom nie die tugverhoor nie?” het Cameron gevra.
“Ons sit met ‘n probleem in Suid-Afrika. Te veel sake van polisiebeamptes met dissiplinêre sake teen hulle word steeds in diens geneem.”
“Hierdie spesifieke saak spreek boekdele oor die breër dissiplinêre krisis binne die SAPS, en is veral belangrik omdat dit gaan oor die adjunk-president.”
Volgens hom is dit gevaarlik as die polisie “net kan doen wat hulle wil” veral as hulle “politiese ondersteuning geniet van ‘n hoër amp”.
Die Polisie- en Gevangenisse-Burgerregte-Unie (Popcru) het in ‘n verklaring Mashabela se uitspraak verwelkom.
“Hierdie uitspraak bevestig weer ons geloof in die beginsel van ‘n behoorlike regsproses, wat gehandhaaf moet word ongeag die openbare mening of mediadruk.”
Popcru het ‘n sterk teregwysing uitgereik oor Cameron se verwysing na die polisiebeamptes as “boewe”.
“[Popcru] veroordeel ten sterkste die opmerkings wat Cameron gemaak het, wat Popcru valslik daarvan beskuldig dat hy regstappe blokkeer en polisiebrutaliteit verdedig. Dit is nie net ongegrond en lasterlik nie, maar verteenwoordig ‘n doelbewuste poging om die rol van georganiseerde arbeid in die verdediging van die regte van sy lede te ondermyn,” lui die verklaring.
Popcru-president Thulani Ngwenya het in die verklaring gesê dat Cameron se opmerkings ‘n misbruik van sy parlementêre toesigrol is en die regstelsel ondermyn.
“Cameron se gedrag is roekeloos en oneties, veral omdat hierdie beamptes deur ‘n behoorlike proses van wangedrag vrygespreek is. Wie is hy om die behoorlike arbeidsbevindinge van die tugverhoor te ondermyn?”
In die verklaring doen Popcru ‘n beroep op die parlement om Cameron as voorsitter te verwyder.
Cameron, op sy beurt, het aan Paarl Post gesê dat hy nie “geïnitimideer gaan word [deur Popcru] nie”.
Hy skryf op Facebook: “Ek sal dus nie stilbly nie. Nie as dit beteken dat burgers se regte geskend word sonder gevolge nie. Nie as dit beteken dat die instellings wat ons veiligheid moet verseker, hulself bo die reg begin sien nie. En beslis nie as dit beteken dat ons as parlement lê en wag vir toestemming van enige belangegroep voordat ons ons grondwetlike werk kan doen nie. Die blou ligte op ons paaie mag dalk helder flits, maar hulle sal nie die waarheid verdof nie.”
You must be logged in to post a comment.