’n Skermgreep van een van die boewe wat die Nine Oaks-woonstelblok in Markstraat in die Paarl ná ’n rooftog verlaat.


’n Huisgesin van die Paarl is die afgelope Maandag (8 Julie) helder oordag beroof toe twee rowers toegang tot ’n woning verkry het deur hulle as Drakenstein- munisipale werkers voor te stel.

Volgens Ronette de Wet-Silver, wat saam met haar bejaarde ma en 18-jarige dogter in die Nine Oaks- woonstelblok in Markstraat woon, het twee mans omstreeks 13:00 voor die woonstelblok geroep om toegang tot die woonstelblok te kry.

Die mans het hulle as munisipale werkers voorgestel, wat na die woonstel se kragtoevoer moes omsien.

“My ma het hulle [die rowers] ingelaat by die syhek van die kompleks ingelaat, waarna hulle by die woonstel ingegaan en van kamer tot kamer gestap het.”

Volgens De Wet-Silver was sy onbewus van wat besig was om te gebeur omdat sy in ’n ander vertrek in die woonstel was terwyl haar bejaarde ma die rowers vergesel het.

“Hulle het binne 10 minute als gevat,” het De Wet-Silver gesê.

Goedere wat gesteel is, sluit in twee slimfone, twee beursies, geld, paspoorte, rybewyse en identiteitsdokumente (ID’s).

“Ek het nie besef wat besig was om te gebeur nie, en sou hulle [die rowers] nooit ingelaat nie.

Die polisie het vir ons gesê hulle [rowers] teiken bejaarde mense, en dit is presies wat hulle gedoen het.
Ronette de Wet-Silver

“Die polisie het vir ons gesê hulle [rowers] teiken bejaarde mense, en dit is presies wat hulle gedoen het.”

“My dogter moet nou matriek skryf, maar haar ID is gesteel, en dit gaan lank vat om weer een te kry,” het De Wet-Silver gefrustreerd gesê.

Volgens haar het haar ma vooruit gestap terwyl die twee rowers agter haar van kamer tot kamer gestap het waar sy die kragproppe gewys het wat hulle kamstig moes inspekteer.

“Hulle het toe net als gegryp wat hulle in die hande kon kry.”

“My kamerdeur was effens toe, en my ma het gesê hulle hoef nie daar in te gaan nie, maar hulle het daarop aangedring.”

Volgens De Wet-Silver was die rowers vriendelik en glad nie haastig nie; nie eens toe sy op uiteindelik besef wat aan die gebeur was nie en die beheerliggaam gebel het.

Dit het hulle nie eens gepla toe ek die beheerliggaam voor hulle bel om uit te vind wie hulle is nie.
Ronette de Wet-Silver

“Dit het hulle nie eens gepla toe ek die beheerliggaam voor hulle bel om uit te vind wie hulle is nie.”

“Hulle [die rowers] het toe net uitgestap en my ma het vir hulle die hek oopgemaak.”

Volgens haar het een van die rowers aan die passasierskant van ’n eenton- vragmotor ingeklim, waarna dit weggery het.

Die gesin het die Paarl-polisie dadelik ná die voorval besoek waarna hulle ’n klagte aangemeld het.

De Wet-Silver het egter gesê sy het nog nie ’n saaknommer ontvang, of ’n oproep van ’n speurder om vingerafdrukke te neem nie.

Die Paarl-polisie het nie op navrae reageer nie.

Paarl Post het ook na die Drakenstein-munisipaliteit uitgereik om vas te stel hoe munisipale werkers se identifikasie lyk, maar het nog nie terugvoering ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.