Julano King (18), hoofseun van die Paulus Joubert Sekondêre Skool in die Paarl, was baie lief vir sy oupa en wou hom beskerm toe sy neef na bewering moeilik geraak en King in die nek gesteek het. Hy het dus as ’n held gesterf.
Dít was die woorde van Julano se klasonderwyser tydens ’n roudiens wat die afgelope Vrydag deur sy skoolmaats, opvoeders, gesins- en familielede in die skoolsaal bygewoon is.
Julano is op 17 Julie in die hospitaal dood nadat hy glo tydens ’n onderonsie met sy neef Gershwin Fransman (23) in die nek gesteek is.
Fransman het hom die volgende dag aan die polisie oorgegee en Maandag (29 Julie) sy aansoek om borgtog in die Paarl-landdroshof laat vaar.
Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op 29 Augustus, waarna die saak na verwagting na die streekhof verwys sal word.
In ’n emosionele toespraak tydens Julano se roudiens die afgelope Vrydag het Viall Mondo, sy klasonderwyseres, vertel hoe aangenaam dit was om hom in haar klas te hê.
“Ek het Julano in graad 10 ontmoet toe hy by my toerisme gekry het. Ek het myself altyd so bekyk aan dié kind. Hy het uitgestaan soos ’n seer vinger. Hy was altyd netjies en baie hardwerkend.
“Julano was daardie jaar die topleerder in toerisme. Altyd by die ouervergadering, as sy ma daar was, het ons net positiewe terugvoering oor hom gegee. Daar was dan ’n groot glimlag op sy gesig, want hy het sy ma trots gemaak.
“Julano was almal se vriend en niemand sy vyand nie. Toe ons die tyding gekry het, het ek vir myself gesê dit kan nie wees nie – nie Julano nie; nie my kind nie.
“Daardie dag was ’n donker dag vir sy klas en die hele skoolgemeenskap. Ons was in rou in gedompel.
“Sy oupa het aan ons vertel wat gebeur het en dit het ons verder gebreek. Julano het eintlik as ’n held gesterf. Hy wou sy oupa beskerm; hy wou sy huismense beskerm,” het Mondo in haar toespraak gesê.
Na afloop van die roudiens het Paarl Post buite die skoolsaal met sy ouers, Jolene King en Marshall Allies, gepraat.
Sy ma het gesê die gebeure is nog rou en die familie verwerk dit nog.
“My kind was letterlik almal se wekker in die huis. Hy het almal op hul tone gehou. Ons mis alles van hom – sy musiek, die reuk van sy kos . . . Alles in my kamer herinner my aan hom,” het sy gesê.
Sy sê nadat sy Julano se lyk gaan besigtig het, het sy ’n mate van afsluiting en vrede gevind.
Sy het ook klem daarop gelê dat sy die familielid wat van sy moord beskuldig word, vergewe het.
“Ek vergewe hom. Ek gaan nie haat saam met my ronddra nie, want ek moet afsluiting vind om te kan aanbeweeg. Dit is hoe die lewe maar nou is.
“Wat gebeur het, het gebeur. Ons kan nou niks aan die situasie doen nie. Ek weet ek gaan die paadjie van herstel suksesvol loop.”
Julano sou volgende jaar in onderwys aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer. Hy het ’n beurs daarvoor ontvang en sou ook toegang tot die instelling se eersteklas-afrigtingsgeriewe gekry het om sy liefde vir rugby verder uit te leef.
Julano word Sondag (4 Augustus) ter ruste gesê.