Twee vermeende kabeldiewe is Sondag (21 April) in hegtenis geneem toe hulle glo koperkabels by die Drakenstein-munisipaliteit se veilingskamp probeer steel het.Foto: Drakenstein-munisipaliteit


Twee vermeende kabeldiewe wat Sondag (21 April) deur die Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassers op heterdaad betrap en aan die polisie oorhandig is, is etlike dae daarna deur die Paarl-landdroshof vrygelaat.

Die verdagtes, Johannes Warries en Npelo Mpayipheli, is aangekeer toe hulle glo besig was om koperkabels by die munisipaliteit se veilingskamp in Distillerystraat in die Paarl te probeer steel.

Die munisipaliteit het Donderdag (25 April) in ’n verklaring gesê die twee is op kringtelevisiemateriaal gewaar.

“Wetstoepassingsbeamptes in ons beheerkamer, wat regstreekse beeldmateriaal van ons kringtelevisiekameranetwerk ontvang, het die oortreders opgemerk.

“Ons wetstoepassers en verkeersbeamptes is dadelik uitgestuur en het die twee verdagtes aangekeer en aan die polisie oorhandig. Verdere inhegtenisnemings kan moontlik volg,” lui die verklaring.

Die munisipaliteit het bygevoeg dat dit ’n duidelike bewys is dat sy “gefaseerde strategieë en ons groeiende bedryfsentrum resultate lewer”.

Kapt. Louise du Plessis, ’n polisiewoordvoerder in die Paarl, het by navraag aan Paarl Post bevestig die Paarl-landdroshof het die saak teen Warries en Mpayipheli laat vaar.

Sy sê koper- en kabeldiefstal bly steeds ’n bekommernis in die Paarl-polisiëringsgebied.

“ ’n Aantal voorvalle is in April aangemeld. Ten spyte van die inhegtenisnemings wat uitgevoer is, ervaar ons steeds ’n toename in kabeldiewe wat by die spoorweë, sakeondernemings en in residensiële gebiede toeslaan.

“Die Kaapse Wynland se polisie-afdeling belas met kabeldiefstal streef steeds daarna om verdagtes voor die gereg te bring, maar van die verdagtes word deur die howe vrygelaat en gaan voort met hul misdrywe,” het Du Plessis benadruk.

In ’n afsonderlike voorval op 25 April is drie verdagtes – Jordan Alexander, Tessyhano Dampes en Manwil Arries – in hegtenis geneem toe sowat 140 m se spoorwegkabels in hul besit gevind is.

Volgens Du Plessis sal dié trio Maandag (6 Mei) om borgtog aansoek doen.

Hy het ’n beroep op die publiek gedoen om enige verdagte aktiwiteite – in ’n poging om kabeldiefstal te voorkom – onder die polisie se aandag te bring deur die Paarl-polisiekantoor by 021 807 4007/8/9 te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.