Die Paarl-Oos-polisie het ’n beroep op enigiemand met inligting gedoen om na vore te kom nadat ’n aantal items, wat musiekinstrumente, beddegoed en eetgerei insluit, tydens ’n inbraak by die Dr. Farrell Tempers-bybelskool in Klein Drakensteinweg in die Paarl gesteel is.
Die voorval het Donderdag 23 Mei in die vroeë oggendure plaasgevind.
Die inbrekers het glo die gebou se dak oopgebreek om toegang te verkry, het Tertia Balie, verbonde aan die Bybelskool, aan Paarl Post gesê.
“Soos jy kan sien het hulle die dak daar opgebreek en so ingekom. Die hele plek is omgekrap soos hulle seker maar gesoek het na nog goed om te vat. Die kantoor is ook heeltemal verwoes. Ons het wel al vroeg begin opruim omdat die polisie so lank vat om op te daag,” het Balie gesê.
Sy sê die eetgerei en beddegoed is gewoonlik gebruik vir geleenthede wat deur die Bybelskool gehou word.
Volgens Dr. Farrell Tempers, die stigter van die skool en Balie se verloofde, is ’n elektriese klavier, drie elektriese kitare en ’n klankversterker onder die musiekinstrumente wat gesteel is.
“Iemand wat op pad kantoor toe was, het vertel sy is deur mense genader wat van die beddegoed aan haar wou verkoop.
“As die polisie op daardie tydstip net vinnig genoeg reageer het, kon hulle dalk die verdagte opgespoor het. Ons sit en wag nou nog vir die polisie,” het Tempers Donderdagoggend ná die voorval aan Paarl Post vertel.
Kapt. Basil Seekoei, ’n polisiewoordvoerder in Paarl-Oos, het die inbraak by navraag aan Paarl Post bevestig.
“Ons speurders ondersoek tans ’n saak van huisbraak en sakeroof na afloop van die voorval. Niemand is nog in verband met die inbraak in hegtenis geneem het.”
Enigiemand met inligting oor die voorval of wat kan help om die gesteelde items op te spoor, kan die polisiekantoor in Paarl-Oos by 021 877 5900 kontak.. The Paarl-East police have asked anyone with information to contact them after several items, including musical instruments, bedding, and cutlery, were stolen at the Dr. Farrell Tempers Bible School in Klein Drakenstein Road.