Marolee Smith van die Paarl is een van die deelnemers wat volgende week in Die Groenste Vingers op kykNET te sien is.


Marolee Smith (34) van die Paarl is een van die top-15- deelnemers wat binnekort in die tweede reeks van die werklikheidsreeks Die Groenste Vingers te sien is.

Smith, wat sedert 2012 ’n vryskut-bloemis is wat gereeld help met blommerangskikkings by troues en ander geleenthede, beskryf haar styl as eklekties.

Sy vertel dat sy reeds van kindsbeen af saam met haar oupa in die tuin gewerk het en meen dis haar oupa wat die liefde vir tuinmaak en blomme by haar aangewakker het. Sy sê dit is ook haar oupa wat haar baie van blomsoorte en plante geleer het

“Ek was nog altyd lief vir ’n blommetjie of iets groens in die huis. Of dit nou ’n plant in my huis is of my nuwe groentetuin. Ek het in 2017 van Pretoria af na die Paarl toe verhuis vir ’n pos as binnehuis-ontwerper. Ek was reeds bekend met die ongelooflike blommebedryf in die Wes-Kaap, veral ook die Boland, en het ’n paar bloemiste op Instagram gevolg. Toe het ek gedink dit sal ook ’n blink plan wees om vinnig die Boland te leer ken, asook die hart van die blombedryf om van die einste bloemiste te kontak en te hoor of ek vryskut-blommewerk kan doen. Ek sien uit na elke naweek wanneer ek na trou-venues kan reis en met al die mooi blomme kan speel,” vertel sy.

Volgens Smith is haar gunstelingblom ’n roos. “Die snoei van rose is soms moeilik en seer, maar net soos baie dinge in die lewe moet ’n mens die seer deurgaan om weer by die mooi uit te kom.”

Vir Smith is die blom wat haar so bietjie opdraand gee ’n orgidee.

“Ek sukkel met ’n orgidee. Die blaartjies is baie delikaat en soms is dit moeilik om die stele te kry om reg te hang. Blomme soos tulpe en varkore is ook soms ’n uitdaging.”

Buiten dat Smith blomme­rangskikking doen, geniet sy dit ook baie om self tuin te maak.

“Ek het onlangs krismisrose geplant, en ’n groentetuin laat my hart behoorlik bokspring. Dit is vir my soos terapie. Ek het onlangs ekstra rakke in my badkamer geïnstalleer om plek te maak vir nog plante,” vertel sy.

Smith vertel dat sy as vryskut-bloemis by ’n geleentheid kan instap, die blommerangskikkings doen en dan weer huis toe gaan, maar dat dit wel soms vir haar moeilik is om dit in te pas by haar voltydse werk as interieur-ontwerper.

Sy sê ook sy het besluit om vir Die Groenste Vingers in te skryf omdat dit vir haar soos ’n “opwindende ervaring” gelyk het. “ ’n Mens weet nooit of ek in die toekoms besluit om my eie besigheid te begin as voltydse bloemis nie.

“Ek het my blomportefeulje vir die program gestuur. Die vervaardigers het my gekontak. Ek het aanvanklik eers effens gelag en gedink, ‘Marolee, waarmee is jy nou besig?’ En toe ek weer sien, is ek op ’n vliegtuig op pad na Johannes­burg om aan die reeks deel te neem.”

Oor die verfilming van die reeks kan Marolee nie te veel verklap nie, maar sy sê wel dat sy by tye “soos ’n afkophoen­dertjie rondgehardloop” het.

“Bloemiste saam met wie ek werk in die Boland was almal so opgewonde. Dit is so verblydend om te weet ’n mens is deel van ’n blom-familie, veral in die Boland.

“Ek sien uit daarna dat die reeks uitgesaai word. Dit gaan vir seker goeie vermaak wees, en ek vermoed ons gaan lekker lag.”

. Die eerste episode van die tweede reeks van Die Groenste Vingers word Woensdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai. In dié 13-episode-reeks sal 15 van die land se voorste bloemiste in ’n splinter­nuwe formaat kragte meet in verskillende uitdagings waarin unieke rangskikkings ontwerp en geskep word. Die oudste deelnemer is 58; die jongste is 24, en elke deelnemer het sy eie styl en sterk punte.

Die uiteindelike wenner van hierdie reeks se Die Groenste Vingers-kompetisie sal R100 000 in die sak steek.

You need to be Logged In to leave a comment.