‘Allie’s’ se groentewinkel in die Paarl sluit sy deure na dekades

Daar heers steeds onduidelikheid onder talle Paarliete oor hoekom die gewilde Allie’s Huguenot Fruit Supplies in Jan van Riebeeckweg sy deure ná etlike jare gesluit het – ’n winkel wat deur baie beskryf word as ’n baken in die Paarl, bekend vir sy be

Allie’s Huguenot Fruit Supplies in Jan van Riebeeckweg het sy deure na dekades se handel gesluit. Foto: Rasaad Adams


Daar heers steeds onduidelikheid onder talle Paarliete oor hoekom die gewilde Allie’s Huguenot Fruit Supplies in Jan van Riebeeckweg sy deure ná etlike jare gesluit het – ’n winkel wat deur baie beskryf word as ’n baken in die Paarl, bekend vir sy bekostigbare vrugte, groente en ander voedselprodukte.

Aidan Stowman, ’n Drakenstein-raadslid, het vandeesweek aan Paarl Post gesê hy probeer steeds self ook agter die kap van die byl kom.

“So baie mense het nou al gevra hoekom die winkel gesluit het. Dit was werklik ’n baken in die omgewing. As jy nou na enigiemand hier in die omgewing gaan, sal hulle vir jou ’n storie oor Allie se winkel kan vertel.”

Stowman sê toe hy as kind saam met sy gesin op sesjarige ouderdom vanuit Butterworth in die Oos-Kaap na die Paarl verhuis het, was die winkel reeds daar.

“Ek is vandag 62, so nou kan jy die sommetjies maak. Daai winkel is al baie lank daar. Ons het as kinders soontoe gestap. Baie Sondae direk ná kerk was ons eerste stop by Allie’s. Dit waar my ma haar groente vir die Sondagmiddagete sou koop.”

Stowman vertel dat Allie’s bekend was vir sy vars produkte teen bekostigbare pryse.

“Ons het geweet dat die vars produkte altyd op ’n Donderdag ingekom het, so daai tyd was die winkel op sy besigste. Groenteverkopers van verskeie markte het ook hul voorraad hier kom koop.

“Ek het ook altyd my pa se koerante soos Die Burger, Cape Argus en ook natuurlik die Paarl Post hier gaan koop. So, dit kom regtig vir ons almal as ’n skok om te sien die winkel het sy deure gesluit.”

Lena Lewis, ’n bejaarde inwoner van Wellington wat vandeesweek saam met haar kleinseun buite die geslote winkel gestaan het, het aan Paarl Post gesê sy is ook geskok om te verneem dat die winkel nou permanent toe is.

“Ek is oorspronklik in Wellington gebore maar ek het baie in die Paarl kom kuier. Ons het baie hier kom shop by Mr. Allie. Ek ken hulle van my kinderdae af.

“Nie net was hulle diens goed nie, maar hulle het altyd goeie groente en vrugte verkoop. Ek kan niks sê van hulle wat sleg is nie, en is eintlik hartseer om te sien dat die winkel toe is.

“Hulle was goedkoper as die gewone groot winkels, daarop het ons altyd hier kom shopping. My dogter het gister nog gesê sy wil Mr. Allie se koekies kom koop, min weet ons die winkel is gesluit.”

Paarl Post verstaan die familiebesigheid is laas deur Ismail Allie, ’n inwoner van die Paarl, bestuur.

Allie kon nie vandeesweek vir kommentaar bereik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.