Vanjaar se benoemings vir die gesogte kykNET-Silwerskermtoekennings vir rolprente en televisie, wat verskeie genres en formate insluit, weerspieël die uitsonderlike talent en kreatiwiteit van die Afrikaanse vermaaklikheidslandskap en is pas bekendgemaak.

Drie Paarliete pronk onder die benoemings vir hul rolle op die kassie.

Beáta Green is op die kortlys vir beste aktrise in ’n sepie in Wyfie, en Mienke Ehlers is vir haar rol in dieselfde sepie as die beste nuweling benoem.

Beáta, ’n oud-leerder van William Lloyd Primêr, het bekendheid verwerf as aktrise in die alombekende sepie 7de Laan met die vertolking van haar rol as Crushanda “Shady” Vermeulen.

Beáta het aan die Hoërskool Hottentots Holland in Somerset-Wes gematrikuleer, waar sy die hoofmeisie en die voorsitter van die verteenwoordigende raad van leerders was. Sy het ’n BA-honneursgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en is nou ’n bekende gesig op Suid-Afrikaanse televisie, met rolle in die kykNET-sepie Arendsvlei en die spanningsreeks Die Spreeus. Sy het ook ’n kleurvolle agtergrond in modelwerk.

Nou sprankel sy behoorlik in Wyfie.

Mienke, ’n oud-Girls’ High’er, het ook drama in Stellenbosch gestudeer en Beáta daar leer ken. Sy is daarna na die Afda-rolprentskool toe vir haar honneursgraad in toneelspel. Haar loopbaan het wye draaie gemaak en sy het vir vyf jaar alles behalwe toneelspel gedoen. Soos elke goeie aktrise, vertel sy, was sy ’n kelnerin, ’n persoonlike afrigter, ’n kosstilis – noem maar op.

Mienke Ehlers

Sy het ook lank agter die skerms in die kostuumdepartement en die kunsdepartement gewerk.

Nog ’n Paarlse inwoner, Anita Lloyd, se naam is onder die kandidate vir Persoonlikheid van die Jaar.

Anita het verlede jaar opspraak gemaak met haar omstrede verskynings in Die Real Housewives van die Wynlande.

Anita Lloyd

’n Onafhanklike paneel kundiges krap reeds kop om die afdelingwenners te bepaal, maar kykNET-intekenare kan ook hul mening lug oor wie Persoonlikheid van die Jaar moet wees.

Kandidate vir Persoonlikheid van die Jaar is Op my eish! se Brendan Peyper en Rachelle Fourie, Derick Hougaard van Hougaard – Liefling van Loftus, Avril Albetti van Die brug, Anita Lloyd van Die Real Housewives van die Wynlande, asook Karen Els en Gert Jouber, die wenners van Kokkedoor: Vuur en Vlam.

Kykers wat wil stem, kan hul keuse van 5 Julie tot 5 Augustus op die kykNET-webwerf maak.

Die toekennings, wat die beste rolprente en akteurs van die fees saam met top-televisieprestasies vereer, vind Saterdag 31 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) plaas.

By dié glansryke afsluitingsfunksie van die kykNET-Silwerskermfees word die ikoniese blou tapyt vir die grootste sterre uitgerol en top-musikante gaan vermaak op die verhoog opdis.

Dit sal die volgende aand, Sondag 1 September, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

Die wenners van die kykNET- Silwerskermfees se ander afdelings sal ook Saterdag 31 Augustus tydens ’n oggend-prysuitdeling by The Bay-hotel aangekondig word.

. Besoek www.silwerskermfees.co.za vir die volledige lys benoemings.

You need to be Logged In to leave a comment.