’n Slimkop van die Hoër Jongenskool Paarl, Jan-Hendrik du Toit, was onlangs op die kassie in die eerste weergawe van Blitsbrein Junior op die kanaal VIA te sien.

Die kompetisie is daarop gemik om die algemene kennis van hoërskoolleerders te toets.

Jan-Hendrik het in die eerste episode teen twee leerders van onderskeidelik Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en Glendale Sekondêre Skool in Mitchells Plain te staan gekom.

Hoewel hy naelskraaps nie na die tweede ronde deurgedring het nie sê Jan-Hendrik die ervaring was steeds “vreeslik opwindend”. Hy stel voor dat ander jongmense hulle deel maak van sulke geleenthede en dit ten minste probeer.

Volgens Jan-Hendrik het hy die kampioenskap gebruik as ’n maatstaf om sy algemene kennis te meet. “Ek het altyd gedink dat ek slim is en wou graag my algemene kennis toets om te sien hoe goed ek regtig is.”

Die deelnemers, wat Jan-Hendrik insluit, was eers deel van Netwerk24 se algemenekenniskompetisie met dieselfde naam as die program. Dit is teen die einde van 2019 in samewerking met Die Burger, Beeld en Volksblad aangebied.

Die kompetisie is in twee kategorieë verdeel, naamlik gr. 8 en gr. 9 (waarvan Jan-Hendrik deel was) en ook gr. 10 en gr. 11.

Sy ma, Amanda, vertel trots dat haar seun die derde plek in die Wes-Kaap behaal het. Jan-Hendrik, aan die ander kant, was nog meer in die wolke toe hy hoor dat hy boonop as die sesdeplekwenner op nasionale vlak aangewys is. Jan-Hendrik, wat hierdie jaar graad 10 sal begin, sê hy sal weer aan die kopkraptoernooi deelneem.

Volgens hom verbreed hy sy algemene kennis deur elke dag te lees.

“Ek is iemand wat daarvan hou om daily facts te lees, en ek lees gereeld koerant. Ek is ook ’n groot aanhanger van die webtuiste Wikipedia.”

Die jongman het ’n liefde vir geskiedenis en geografie. Hy sê hy vind dit interessant om terug te kyk “op gebeure en hoe dit ons jare later affekteer”. Hy voeg by: “Met aardrykskunde hou ek daarvan om na die weerverskynsels te kyk.”

Die 15-jarige sien nou daarna uit om nie net sy algemene kennis uit te brei nie, maar om ook ná skool regte te studeer. “Ek wil graag ’n prokureur word. Ek het gesien hoe mense in Suid-Afrika sukkel om regshulp te kry, en ek wil baie graag sulke mense help.”

You need to be Logged In to leave a comment.