‘n Vrou van die Paarl beweer die proses vir ‘n beskermingsbevel teen haar man, sloer. Foto: Argief

PAARL – ‘n Vrou van die Paarl beweer dat sy sedert Oktober 2023 sukkel om ‘n beskermingsbevel teen haar man, van wie sy tans besig is om te skei, te verkry. Sy beweer sy is deur haar man verkrag en dat hy haar sedertdien agtervolg.

Die vrou, wie se identiteit weerhou word om haar en haar minderjarige kind se identiteit te beskerm, sê haar man het haar in 2022 verkrag deur haar op ‘n rusbank in hul sitkmer vas te pen. Haar klere is glo tydens die rusie geskeur – bewyse wat sy bewaar het.

Omdat haar man destyds in die buiteland gewerk het, het sy nie ‘n strafregtelike saak teen hom aangemeld nie, aangesien sy bang was dat hy sy werk in die buiteland sou kon verloor.

Sy het in Oktober 2023 besluit om ‘n beskermingsbevel aan te vra en sê sy beoog steeds nie om ‘n strafregtelike klagte aanhangig te maak nie, aangesien sy “die situasie so gou as moontlik wil afhandel”.

Volgens haar agtervolg haar man haar by winkels in die dorp en het sy gevolglik begin om kruideniersware aanlyn te bestel, wat by haar huis afgelewer word. Sy beweer ook dat sy ‘n opsporingstoestel in haar motor gekry het, wat intussen verwyder is. Die vrou sê sy “vrees vir haar lewe” en glo vas haar man is in staat om haar te vermoor.

Die saak is volgens haar sedert sy die aansoek vir die beskermingsbevel ingedien het, verskeie kere uitgestel. Die saak het glo tot dusver net een keer in die hof gedien, waar haar man se regspan haar beweerde verkragting as ‘n “fake rape” afgemaak het. Die ander kere is die saak glo slegs in die landdros se kantoor hanteer.

Sy kan nie haar eie regsverteenwoordiging bekostig nie en sê haar man onderhou haar nie meer finansieël nie, terwyl hy van die dienste van ‘n bekende regsfirma in die Paarl gebruik maak.

Die egpaar se egskeidingsaak is in November 2024 in die Paarl aanhangig gemaak, nadat dit oorspronklik in 2023 in die Kaapse hooggeregshof geregistreer is, maar teruggetrek moes word.

Benewens die beskermingsbevel en die egskeidingsaak, is daar volgens haar nog vier ander regsake tussen die partye aan die gang. Een van dié sake het betrekking op ‘n skikking wat deur haar man se regspan opgestel is, waarin sy verplig word om alle interdikte teen hom terug te trek – ‘n bepaling wat glo verband hou met haar egskeiding, wat dan deur haar man onderteken sou word.

Toe sy egter geweier het, is daar volgens haar teenmaatreëls getref, insluitend ‘n pleitstuk waarin haar ouerlike regte beëindig sou word en sy van buite-egtelike verhoudings beskuldig word. Die vrou beweer verder dat haar man se regspan doelbewus taktieke gebruik om die uitreiking van die beskermingsbevel te vertraag.

Paarl Post het by Eric Ntabazalila, ‘n woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, navraag gedoen oor waarom die proses rakende die beskermingsbevel sloer, maar geen terugvoering is ontvang nie.

Stappe om ‘n beskermingsbevel aan te vra, volgens Diane Blaauw, senior landdros by die Paarl-landdroshof:

  • Gaan na jou naaste landdroshof en vul die aansoekvorm vir ‘n beskermingsbevel in. Sluit ‘n beëdigde verklaring in waarin jy die mishandeling beskryf.
  • Bevestig in ‘n tweede beëdigde verklaring dat die inligting wat jy ver- skaf het, waar is en onderteken die vorm.
  • Die klerk van die hof onderteken en stempel jou aansoek, open ‘n lêer en plaas al die dokumente daarin.
  • Die landdros lees jou aansoek en besluit of jy vir ‘n tydelike beskermingsbevel kwalifiseer.
  • Die klerk laat weet jou of die tydelike bevel toegestaan is en gee vir jou ‘n saaknommer en ‘n datum waarop jy weer hof toe moet kom.
  • Die landdros reik ‘n kennisgewing aan die beweerde oortreder uit om op die vasgestelde datum in die hof te verskyn.
  • Jy ontvang drie afskrifte van die aansoek en bevel – twee vir die polisie of balju en een vir jou eie rekords.
  • Nadat die kennisgewing aan die oortreder beteken is, kan jy by die hofklerk ‘n tydelike lasbrief van inhegtenisneming aanvra. Dit kan gebruik word as die oortreder enige van die voorwaardes van die beskermingsbevel oortree.

You need to be Logged In to leave a comment.