Dr. Jerome Fredericks by sy doktorale grade- plegtigheid verlede maand. Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Dr. Jerome Fredericks, ‘n inwoner van die Paarl en dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), het vir sy doktorale tesis strategieë ontwikkel om die toeganklikheid van minibustaxidienste vir rolstoelgebruikers in sy tuisdorp te verbeter.

Fredericks, wat al 17 jaar lank ‘n dosent aan die US se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe is, het sy graad verlede maand gekry.

Hy het aan die Paulus Joubert Sekondêre Skool gematrikuleer, waar hy in sy matriekjaar ook die hoofseun en topleerling was.

Luidens ‘n verklaring deur die US fokus ‘n groot deel van sy werk op die rol van arbeidsterapie in fisieke gestremdhede.

Dr. Jerome Fredericks by sy doktorale gradeplegtigheid verlede maand. Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Die behoeftes van sy gemeenskap lê hom na aan die hart aangesien hy al te goed weet hoe kragtig ‘n helpende hand kan wees.

Hy sê hy onthou “soos gister” die oomblik toe sy lewe as kind verander het toe hy, terwyl hy op ‘n straathoek gebedel het, genooi is om aan ‘n vlugbal-oefensessie deel te neem.

Daardie wedstryd het sy lewensrigting verander, sê hy, en verwys na die gesegde “ ’n kind in sport is ‘n kind uit die hof”.

Hy sê vlugbalspeel in sy vrye tyd het hom uit die moeilikheid gehou en sy selfbeeld verbeter.

“Ek het my tyd meer produktief gebruik en soveel sosiale en lewensvaardighede ontwikkel.”

Vlugbal het vir hom “betekenis en doel in die lewe” gebring, voeg hy by.

Dit het hom die ingesteldheid gegee dat “alles moontlik is as jy net glo en hard aan jou droom werk”.

Nadat hy gr. 3 herhaal het, het Fredericks sy ma se raad onthou om nie toe te laat dat enigiemand vir jou sê dat jy nie die mens kan word wat jy wil wees nie.

“Dit was die dag wat ek besluit het om ‘n professor te word,” onthou hy.

“En hoekom het ek gedroom om ‘n professor te wees?” vra hy.

“Dit was om my eie kantoor te hê, by my eie lessenaar te sit, deur die wêreld te reis, ‘n verskil in mense se lewens te maak, my ma trots te maak en – laastens – om ‘n hele hoender vir myself te hê… Ja, ‘n hele hoender vir myself!”

Fredericks skryf sy sukses toe aan ‘n gebalanseerde leefstyl sowel as twee van die beste studieleiers en akademiese mentors.

Sy ma se “streng liefde en eerlike raad” het ook tot sy sukses bygedra.

“Een van die waardevolste lesse wat sy my geleer het, was dat die lewe in die krag van die tong lê en dat jy lewe in enige situasie kan inspreek. Met ander woorde, jy kan jou eie realiteit skep.

“My inspirasie was ‘n ma wat niks gehad het nie, maar my steeds kon grootmaak tot ‘n doktor deur net op die Here en haar geloof te vertrou.”

Hoewel sy nie meer hier is om sy gradeplegtigheid te vier nie, sal hy dit kan deel met sy vrou, Mandy, en sy kinders Joshua, Meah en Meekah.

“Ek is baie nederig en baie dankbaar vir die genade van God oor my lewe.”

Hy het ook die belangrikheid van bestendige en proaktiewe werk beklemtoon.

Wanneer hy nie met navorsing of lesings besig is nie, ontspan hy deur te kook, flieks te kyk of na inspirerende musiek te luister.

Fredericks hoop om wyer te publiseer en nasionaal en internasionaal met eweknieë in sy veld saam te werk.

Hy het reeds van sy navorsing by konferensies in Europa aangebied en sal dit volgende jaar by die wêreldfederasie vir arbeidsterapie (WFOT) se kongres in Thailand aanbied.

You need to be Logged In to leave a comment.