Atleet, afrigter, motiveringspreker, en nou ook skrywer – dis die Paarliet Bjorn Alexander.

Hy het onlangs ’n gids genaamd Lifemap – live by design die lig laat sien.

Alexander hoop dié werkboek sal mense help om meer gedissiplineerd en gefokus hul doelwitte in terme van byvoorbeeld gesondheid, studies en fiksheid te behaal.

Alexander was op sy dag ’n Suid-Afrikaanse driekampatleet. Benewens sy werk by Lifestrong, as afrigter van middelafstandatlete en as motiveringspreker by skole en organisasies, is hy ook ten nouste betrokke by ’n nasorgdiens by Groenheuwel Primêr. Dit word aangebied onder die vaandel van Hilltop Legacy, met ondersteuning van plaaslike sakelui, ondernemings en sommige skole.

Lifemap is gegrond is op lesse wat hy al deur die loop van sy lewe geleer het. Die werkboek is ook ’n uitvloeisel van Lifestrong, die maatskappy wat hy saam met sy vrou, Ingrid, bestuur, om leierskapsontwikkeling in die werksplek en op die sportveld teweeg te bring.

“Groei is net ’n perspektief ver,” lui hul leuse.

Die gids bied agt mentorskapsessies vir oordenking, wat onder meer werk rondom die idees van aanvaarding, ervaring, keuses, groei, verwagtinge en ervarings, sekerheid en aandag.

Daar is ook oorgenoeg ruimte vir mense om deur die loop van ’n week en uiteindelik ’n jaar te kan neerskryf wat hulle gedoen het. So kan hulle spesifieke klein of groot doelwitte vir hulself stel.

Deur dit neer te skryf, sê Bjorn, kan hulle later weer terugkyk om te sien of hulle dit behaal het.

“Baie mense dink dat groei osmoties, vanself moet gebeur, maar tog is dit so dat enigiets wat sommer net so gelaat word om te sien kom klaar eintlik maar altyd agteruitgaan.

“Die realiteit is dat mens net met volgehoue dissipline wesenlike sukses, ’n langdurige verskil of inspirasie vir die wêreld kan wees,” verduidelik Bjorn.

Kontak Alexander by 078 717 0002 of e-pos bjorn@lifestrong.co.za met navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.