Die een oomblik kyk hy en sy vrou oudergewoonte Suidooster, toe spring hulle op weens ‘n oproerigheid buite. Geboue het vibreer en die lug is deur dodelike missiele verhelder.
Só het Dillon Martin, ‘n jong Paarlse sakeman wat in die koffiebedryf in die Katarse hoofstad, Doha, werk, vandeesweek vertel nadat Iran Maandagaand (23 Junie) ‘n Amerikaanse lugmagbasis in Doha aangeval het.
Dié aanval volg nadat Amerika betrokke geraak het by die oor-en-weer-gevegte tussen Iran en Israel, wat die afgelope twee weke sy’n hoogtepunt bereik het.
Amerika het die afgelope naweek drie belangrike Iranse kernkragterreine aangeval en dit bestempel as ‘n poging om Iran van enige toekomstige militêre kernkragvermoëns te ontwapen.
Iran se aanval op die Amerikaanse lugmagbasis Maandagaand was dus in reaksie op Amerika se besluit om homself aan te sluit by ‘n oorleg wat so ver as die laat 1970’s dateer.
Volgens Martin was hy en sy vrou besig om die aand Suidooster te kyk hulle die oproer buite hoor. Hulle is toe na die balkon vanwaar hulle die missiele in die lug kon sien.
“Baie van ons mense is daaraan gewoond om te skuil wanneer op plekke soos die Kaapse vlakte geskiet word, maar hierdie was ‘n heel ander ervaring. Om missiele in die lug te sien, is nie vir ons normaal nie.
“Ons is vooraf gewaarsku en daar was ook tekens dat ‘n moontlike aanval op pad is met dié dat talle lughawens in die streek vlugte gestaak het. Dit was duidelik dat iets aan die kom was.
“Dis ook belangrik om dit duidelik te maak dat hierdie ‘n aanval op Amerika se basis was – nie op Katar nie. Die basis is baie ver buite Doha, die hoofstad.
“Katar se lugmag het die missiele natuurlik onderskep en ons kon daardie vibrasie voel. Die geboue het geskud,” het Martin vertel.

Hy sê die aanvalle en onderskepping [van die missiele] het sowat 20 minute geduur.
“My vrou was ‘n bietjie paniekbevange en hoewel ek ook geskrik het, moes een van ons kalm bly. Dinge het sowat ‘n uur later so te sê na normaal teruggekeer.
“Die verkeer het weer begin vloei en baie van ons het later die aand ingeskakel vir Katar se regering se perskonferensie, waartydens hulle die land verseker het dat alles onder beheer is.”
Hulle het toe ook met ander Suid-Afrikaners saam met wie hulle op aanlyn groepe is, gekommunikeer, wat aangedui het dat hulle ook ongedeerd is.
“Katar was nog al die jare ‘n rustige land. Hulle was nog altyd die vredemakers wat die omliggende lande in die streek bymekaargebring het.
“Vir hulle [Katar] was dit dus ook ‘n skok. Ek verstaan Iran het toe later selfs om verskoning gevra en benadruk dat die aanval nie op Katar self gerig was nie, maar op die Amerikaanse basis in die land,” het Martin bygevoeg.
Die Suid-Afrikaanse ambassade asook die departement van buitelandse sake het voortdurend elektronies met Suid-Afrikaners in Katar kommunikeer.
Intussen het Iran Dinsdagoggend (24 Junie) opnuut missiele na Israel afgevuur ten spyte van ‘n ooreenkoms vir ‘n skietstilstand, wat Maandag (23 Junie) bereik is.
You must be logged in to post a comment.