’n Oorspronklike kunswerk wat die tragiese maar ook merkwaardige lewe van Krotoa herdenk en ook op visuele wyse met die NG kerk in verband bring, is Vrydagaand by die Groote Kerk in Kaapstad bekendgestel.
Die Paarlse kunstenaar Dieuwke-Jean Linee is vir hierdie besonderse skepping verantwoordelik.
Tradisionele leiers, plaaslike politici, sowat 50 gaste, asook dss. Marietjie Steyn en Riaan de Villiers van dié historiese gemeente het in ’n baie emosionele oomblik toegekyk hoe Dieuwke-Jean teen skemer die muurportret van agter ’n swart doek onthul in die smal steeg waar die kerkgebou se kloktoring, wat uit 1704 dateer, pryk.
“Sy is die moeder van ons volk,” sê Danab Bradley van Sitters oor Krotoa.
Krotoa was ’n Khoekhoen-vrou, wat onder meer as tolk vir die Nederlandse koloniste opgetree het en in 1662 gedoop en as lidmaat bevestig is in dié gemeente wat haar lewe nou herdenk.
Susanna Swarts, al die pad van Van Rhynsdorp, sê sy kry Krotoa eintlik jammer.
“Sy was eintlik ’n slaaf. My hart gaan uit oor haar. Maar die trane moet ek terughou.”
Oor Dieuwke-Jean se kunswerk, wat die dualiteit van Krotoa se lewe uitbeeld as twee aparte figure waarvan een huil, sê Swarts “dis trane wat rol; dis oë wat praat”.
“Dit vra om hulp; dit vra om vergifnis; dit vra om mens te wees.”
Dieuwke-Jean, dogter van die ontslape Springbokrugbyspeler Thinus Linee en sy vrou, Hybré, sê hierdie geleentheid wat sy gekry het, is ’n baie groot eer en voorreg vir haar.
Sy sê sy het ds. Riaan de Villiers van die Groote Kerk in Stellenbosch verlede jaar met die inhuldiging van die Krotoa-gebou ontmoet het.
Daar was ’n kunsuitstalling waar van haar werk tentoongestel is, onder andere ’n werk van haar juis van Krotoa.
“Ds. Riaan het my vroeër vanjaar gekontak en vertel van die projek ter viering van Krotoa by die Groote Kerk. Hy het my gevra of ek hierby betrokke sou wou raak en ’n portret van haar sou wou skilder.
“Dit was vir my ’n baie groot uitdaging. Ek wou Krotoa nie net uitbeeld nie, maar haar ook storie met die skildery vertel.”
Dieuwke-Jean sê sy het eers baie sketse van haar voorstelling van hoe Krotoa sou gelyk het, gemaak. Sy het geen voorbeelde gehad nie – net haar eie gedagtes.
“Ek het my idees aan verskeie mense voorgelê om hul gevoelens hieroor te hoor. En uiteindelik het die skildery bymekaargekom.”
Sy sê dit het haar twee en ’n half maande geneem en sy het soms selfs deurnag aan die skildery gewerk.
“Daar is twee beelde op – een van Krotoa in haar Europese drag toe sy in diens van Van Riebeeck was. Die ander is haar tradisionele uitrusting wat sy sou dra as sy teruggegaan het na haar mense toe.
“Krotoa was ook bekend as Eva van Meerhof, die naam wat deur kolonialiste aan haar gegee is. Dit is een mens, maar dis twee dele van haar lewe wat ek uitbeeld,” sê Dieuwke-Jean.
Niemand het net een storie nie, het ds. Steyn in sy verwelkoming gesê.
“Vir baie is hierdie plek (Groote Kerk) ’n plek van uitsluiting. Ons kan nie en ons sal nie daardie storie ontken nie. Maar dit is nie die enigste storie nie. Dit is ook die gemeente wat Krotoa gedoop het en waar sy uit die nagmaalbeker gedrink het,” sê Steyn.
Die Groote Kerk het die viering, wat op die vooraand van vrouemaand in Augustus geval het, in ’n verklaring bekendgestel.
“Onder die vele voormalige Kaapse goewerneurs, politieke figure en ryk grondeienaars wat by die Groote Kerk begrawe lê, is die sterflike oorskot van ’n werklik betekenisvolle voorouer wie se lewe en verhaal ’n belangrike herinnering is aan die verskeie uitdagings en trauma’s wat ons vandag as samelewing en land steeds in die gesig staar. Haar verhaal is een van verlies, ontheemding, mishandeling, hoop, moed en krag wat tragies in verwerping en verlating geëindig het.
“Hierdie merkwaardige Suid-Afrikaanse vrou, wat by geboorte Krotoa genoem is en later deur ons gemeente as Eva gedoop is, is op 29 Julie 1674 oorlede.
“Sy word beskryf as vertaler, onderhandelaar en vredemaker. Ons sal ons die lewe en verhaal van Krotoa – Eva, die eerste Khoi-lid van ons Groote Kerk-gemeente – die naweek van 26 tot 28 Julie 2024 vier. Ons sal dié naweekprogram saam met ’n verskeidenheid vennote en medewerkers aanbied en [die media] word uitgenooi om dit by te woon,” lui die verklaring.
“Dit is vir my besonders dat ek deel hiervan is en dat ek my eer teenoor hierdie besonderse vrou in ons geskiedenis deur my skildery kan betoon,” sê Dieuwke-Jean.