Met Spookmaand wat sy laaste dae tel, het Drikus Brand (37), ‘n rekenmeester van die Paarl, pas sy eerste spookboek, Die [Op]bekende, bekendgestel. Dit is ‘n versameling ware en oorvertelde stories oor die bonatuurlike en wat lesers van die Wes-Kaap oor die land heen neem.

Brand, wat in 2006 aan die Hoërskool Labori gematrikuleer het, het van 2021 tot 2023 ‘n radioprogram met dieselfde naam op Kaapstad Radio en toe by Riebeeck Vallei Radio tot Januarie vanjaar aangebied waar hy mense hul spookstories met die radiostasie laat deel het.

Hy het ook saam met sy vrou, Janike Brand en sy vriend Francois Coertze ‘n YouTube-kanaal genaamd Die Onbekende in 2018 begin, maar dit het tydens die Covid-19-pandemie doodgeloop. Dit het dieselfde konsep as die radioprogram gevolg en hulle of die publiek (hoofsaaklik inwoners van Drakenstein) het spookstories vertel.

Ná ‘n klomp spookstories waarna Brand geluister en wat sy aandag geprikkel het, het hy besluit om die stories in boekvorm om te skep, waar hy sy eie navorsing oor die spookstories gedoen het en selfs ‘n paar van die plekke waar dit afspeel, soos byvoorbeeld by die Lord Milner-hotel in Matjiesfontein – die spookagtigste dorp in Suid-Afrika – besoek het.

Brand vertel die boek vat lesers op ‘n “road trip” van Kaapstad in die Wes-Kaap na die noorde van die land na provinsies soos Gauteng, Noord-Wes en Limpopo, waarna dit weer eindig in die Wes-Kaap by Kaap Agulhas.

Volgens hom het hy nog altyd ‘n passie vir spookverhale en rillerrolprente gehad en is dit vir hom ‘n mylpaal dat sy stokperdjie tot ‘n boek kon ontwikkel.

Volgens Brand is een van sy gunsteling-spookstories een wat in die Lord Milner-hotel afspeel – die spook genaamd Kate, wat glo ‘n verpleegster was voordat sy op 19 dood is. Kate loop dwaal vandag nog in die gange van die hotel rond. Die gebou was destyds ‘n veldhospitaal tydens die Suid-Afrikaanse oorlog, waar sy saam met pasiënte kaart gespeel het.

Nóg ‘n spookstorie waarna lesers kan uitsien, speel af in die Kleine Schuur-plaas in Suider-Agter-Paarl en vertel hoe die destydse plaaseienaar, Hugo Vercueil, voordat iemand in sy binnekring sou doodgaan, spoke op sy plaas gesien het. Hierdie storie is glo op 16 Mei 1939 in Paarl Post gepubliseer toe Vercueil vir die eeste keer oor dié vreemde verskynsel gepraat het.

Die [Op]bekende bestaan uit 10 hoofstukke en ongeveer 260 bladsye. Dit kos R300; kontak Brand by 076 503 7456.

• Paarl Post het ook een kopie om weg te gee. Om vir die boek in aanmerking te kom, beantwoord die volgende vraag en stuur die antwoord asook jou naam en van na 066 484 3728: “Wie is die skrywer van Die [Op]bekende?”

You need to be Logged In to leave a comment.