Louis Wessels (34) van die Paarl, ’n regsbestuurder van Agri Wes-Kaap, het die afgelope naweek aan die Paarl Rock Ultra deelgeneem en 100 km kafgedraf, onder meer vir bewusmaking van kankerlyers se brawe veggees.
Wessels, wat lief is vir draf, het besluit vanjaar is die jaar wat hy hiérdie ultra-wedloop sal voltooi – ’n droom wat op sy emmerskoplys was in afwagting om afgetik te word.
Volgens hom het hy die wedloop-draf-stap in ongeveer 23 uur voltooi en ook per ongeluk twee kilometer ekstra ingekry weens ’n verkeerde roete wat hy gevat het.
“Ons het 05:00 die Saterdag (7 November) by Ridgeback Wines weggespring en ek het omstreeks 05:00 die Sondag klaargemaak,” het Wessels gesê.
Wessels sê hy het besluit om die uitmergelende Paarl Rock Ultra aan te pak om twee redes – omdat hy sy deursettingsvermoë wou toets en dit nog altyd wou bemeester, maar ook om hulde te bring aan sy suster wat twee jaar gelede ’n dapper kankerstryd gestry het en vandag haar lewe as ’n kankeroorwinnaar voortsit. Dít het hy, onder meer, gedoen deur ’n pienk hoed gedurende die wedloop te dra.
Wessels sê ’n kankerstryd is een van die moeilikste wedlope om te voltooi, en hy het die Paarl Rock Ultra aangepak as ’n boodskap dat níks in die lewe te moeilik is om baas te raak as dit vergelyk word met die brawe stryd van ’n kankerlyer, soos sy suster, nie.
Hy vertel dat hy nie juis ’n “atleet” is nie, en eerder net draf vir die liefde daarvan.
“Die verste wat ek al gehardloop het [voor die Paarl Rock Ultra] was ’n 25 km-bergroete,” volgens hom.
’n Paar maande voor die naweek se wedloop kon Wessels weens ’n besering ook nie veel oefen nie, en het dus die 100 km aangepak met die hulp van sy familie, talle sakkies elektroliete, en ’n gesonde aantal spiergeheue.
“Ek sou dit nie kon doen sonder die ondersteuning van my familie nie,” het Wessels gesê, wat verduidelik het dat sy familie by die meeste waterpunte vir hom gewag het met kos, skoon stelle klere en ander drafskoene.
Hoewel Wessels gedurende die wedloop krampe ervaar het, het hy besef om die laaste kilometers weg te wens, is nie ’n goeie strategie nie.
“Ek het my nie blind gestaar teen die lang afstand wat oor is nie, maar dit eerder een kilometer op ’n keer gevat,” het Wessels vertel.
Vandag is hy en die res van sy familie baie trots op dié uitdaging wat hy voltooi het.