In die brandbestryders se pogings om die brand op Paarlberg wat die afgelope Saterdag (30 November) uitgebreek het te bekamp, het ’n sak water wat deur ‘n helikopter vervoer was, per ongeluk op die dak van die Paarlse Voortrekkerterrein se saal neergeval.
Die brand het Saterdag omstreeks 12:00 agter die Voortrekkerterrein in Kloofstraat uitgebreek en chaos gesaai soos wat dit op die lae hange van Paarlberg gewoed en verskeie huise bedreig het.
Volgens Danie Brandsen, terreinbestuurder van die Voortrekkerterrein, was hy rondom 12:15 op die perseel nadat hy ingelig is oor die brand. Hy het die terrein besoek om die hek oop te sluit indien nooddienste die perseel moes betree om die brand te bestry.
Kort ná sy aankoms daar, het hy die eerste helikopters van Leading Edge Aviation gewaar wat groot sakke water vervoer het om die vlamme mee te probeer blus.
Die volgende oomblik het een van dié sakke egter deur ‘n gedeelte van die Voortrekkerterrein se dak geploeg en ‘n paar dakplate is beskadig.
Brandsen het verduidelik dat die binnekant van die saal nie veel skade gely het nie en dat slegs een dakplaat beskadig is. Die afdak bo die saal se stoep is met ’n groot gat daarin gelaat.
Die skade kon wel baie erger gewees het as die sak nog vol water was, het Brandsen gesê.
In ‘n video wat Paarl Post die afgelope Saterdag op sy Facebookblad gedeel het, kan daar gesien word hoe die water wat die helikopter vervoer, uit die sak val en agter die saal van die Voortrekkerterrein te lande kom. Daarna het ‘n groep mense die sak opgetel wat op die grasperk voor die saal te lande gekom het.
Die gat wat die sak in die dak gelaat het, is duidelik sigbaar in die video.
Die skade van dié ongeluk sal die Voortrekkerterrein ongeveer R10 000 kos, het Brandsen gesê.
Mark Jackson, eienaar van Leading Edge Aviation wat drie van die vier helikopters gevlieg het wat ontplooi was, het verduidelik dat die insident ’n ongeluk was wat moontlik aangehelp was deur erge turbulensie.
Hy het gesê dat sy span die watersak ná die ongeluk beveilig het, en vir die res van die dag, tot sonsondergang die vuur suksesvol beveg het.
Volgens Jackson het elke watersak ’n kapasiteit van 2 500 liter, waar die drie helikopters altesaam 289 vragte water oor die naweek aangery het.
Dit kom neer op 722 500 liter water.
Hy het gesê dat die Paarlse Voortrekkerterrein vir die skade vergoed sal word.
Die derde helikopter wat Leading Edge Aviation gevlieg het, bekend as die swart valk, was vir twee ure geborg deur die Winelands Fire Protection Association, volgens Jackson.
Die brand het volgens die woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) Jo-Anne Otto, ‘n gebied van “ongeveer 123 ha van ouer, gemengde plantegroei,” afgebrand.
Volgens Daan van Leeuwen Boomkamp, bevelvoerder van die Drakenstein Plaaswag (DFW), ‘n organisasie sonder winsbejag wat twee brandweertrokke ontplooi het tydens die naweek se brand, was hul ontbied na die Le Joubert-landgoed deur inwoners waar twee huise baie naby aan die vuurlyn was.
Volgens hom was die vlamme 20 meter vanaf die twee huise, maar is suksesvol geblus met geen skade wat aangemeld is nie.
Van Leeuwen Boomkamp het gesê dat hul deurgaans die landgoed se grensmuur moes patrolleer om te keer dat die vlamme naby aan die huise kruip.
Hy het sy ontevredenheid uitgespreek dat die DFW nie ontplooi is deur die KWDM of Drakenstein-munisipaliteit (DM) nie, waar hul slegs gereageer het op privaat noodoproepe.
Volgens ‘n betroubare bron is die brand, na bewering, veroorsaak deur haweloses wat op die hange van die berg woon naby die Voorkamp – ’n area waar talle vorige brande op Paarlberg begin is.
Otto het gesê dat die KWDM nie kan “spekuleer” oor die bogenoemde bewerings nie.
“Die KWDM se branddienste word ontplooi na brande waar die brand reeds ontstaan het, soos wat die geval was met hierdie naweek se brand op Paarlberg. Ons kan dus nie spekuleer oor hoe die brand ontstaan het nie, maar fokus eerder op die bestuur van die situasie en die voorkoming van verlies aan lewe, lewensbestaan en eiendom,” het Otto gesê.
Volgens haar word geen saak van brandstigting ondersoek nie.
Drakenstein-munisipaliteit het nog nie vrae oor die brand beantwoord nie.
Volgens Darren Herbst van Paarl Trails wat ook ‘n hand in die organisering van die Absa Cape Epic het, is geen skade aan die roetes wat die fietstoer wat van op 16 tot 23 Maart gehou word, aangemeld nie.