Paarlberg is werklikwaar die pêrel van die Paarl.Foto: Lise Beyers


Die somermaand is nog met ons vir ’n hele tydjie en dit is dus die perfekte tyd om ons majestueuse Paarlberg te ontdek.

Toe vroeë koloniste aan die Kaap die berg gewaar het, het die blink spel van lig op water en klip hulle aan ’n skitterende pêrel herinner. Daarom is dit dan ook gepas Paarlberg gedoop.

Tog is dit nie die berg se oorspronklike naam nie. Lank voor die koloniste hier aangeland het, was dit onder die eerste inwoners as Skilpadberg bekend. Veral as ’n mens vandag op die R44 van Stellenbosch na Klapmuts reis, is dit baie duidelik waarom Paarlberg se granietkoppe die Khoi-San aan skilpaaie herinner het.

Paarlberg of Skilpadberg, die feit bly staan dat hierdie berg en sy reservaat ’n besonderse ervaring aan besoekers bied. Plantkundiges verwys dikwels na die Paarlberg-natuur­reservaat as die pêrel van die Paarl.

Die reservaat word geken­merk deur ’n rykdom van plantegroei, terwyl dit geleë is in die omgewing van die unieke granietkoppe; ’n eiland omring deur ’n see van plase en dorpe.

Wat bied die reservaat die dagreisiger?

Natuurtonele byna sonder weerga in die Boland, ’n fees van bome en plante (meer as 700 soorte is hier opgeteken), ’n groot verskeidenheid voëls, wandelpaaie en bergfietsroetes. Daar is ook piekniekplekke vir diegene wat daarvan hou om só in die buitelug te ontspan.

Onthou net, die natuur­reservaat begin en eindig nie by die veldblomtuin en die Meulwater-piekniekterrein wat ’n mens eerste met die Jan Philips-bergpad bereik nie.

Ry ’n ent verder en volg die padtekens wat die weg na die Paarlberg se damme aandui. Sperpale en ’n hut begroet die reisiger waar jy naweke ’n toegangskaartjie (R58 per voertuig en R19 per persoon) moet koop. Weeksdae is toegang gratis. ’n Kaart van die berg, wat baie nuttig is en al die roetes aandui, kos R38.

Terloops, die gehalte van die grondpaaie is wisselvallig – plek-plek is dit goed; ander kere is dit weer sleg. Eienaars van die blinkste motors moet hul voertuie liewers vir bak­kies of sulke voertuie verruil wanneer hulle hier wil kom kuier.

Van die bekendste besienswaardighede is die reuserotse wat met die pad bereikbaar is.

Die Paarlberg is 654 m bo seespieël. Die ouderdom van die drie groot koppe – Paarl, Bretagne en Gordon – word op 50 miljoen jaar geskat en dít wat vandag sigbaar is, is deur erosie blootgelê.

Bretagne kan bestyg word met behulp van ’n ketting waaraan klimmers kan vashou. Indien dit ’n helder dag is, word die besoeker met ’n pragtige uitsig oor Tafel- en Valsbaai beloon.

’n Rit op die berg is nie volledig sonder ’n besoek aan Krismiskamp en Oukraal nie. Voordat motors in die vorige eeu ’n algemene gebruik geword het, was die Paarlberg ’n gewilde kampeerplek vir Paarliete.

Een groep het in die Kerstyd onder die reuse-olienhoutbome gekampeer, wat later Krismiskamp sou word.

’n Ander groep het hul Kersvakansies by Oukraal deurgebring. Bedags het hulle jukskei gespeel en saans musiek gemaak. Dit is hier waar Manas de Villiers se “Oukraalliedjie” ontstaan het.

Vandag kan jy by Krismiskamp en Oukraal ook uitspan soos hulle dit in die ou dae gedoen het. Onthou net om vuurmaakhout by die hek te koop. Hier kan jy jou verwonder aan bome wat lank voor Jan van Riebeeck se tyd al gestaan het.

Krismiskamp is maklik bereikbaar met die pad, maar Oukraal toe moet jy loop en jou goed saamdra.

Nóg ’n roete bring jou by Waboomkop, waar ’n manjifieke waboomwoud te sien is. Meer suid is ’n digte bos silwerbome. Behalwe Tafelberg en Helderberg is die Paarlberg die enigste ander gebied ter wêreld waar dié bome voorkom.

Danksy die verskeidenheid plantegroei is daar die hele jaar die een of ander struik, protea, heide, bolplant en ander lede van die fynbosfamilie wat blom.

Hierdie blomtyd bereik in September en Oktober ’n hoogtepunt. Talle van dié soorte is te sien in die veldblomtuin by Meulwater, wat in 1931 deur ’n groepie vroue van die Paarlse verfraaiingsvereniging aangelê is.

Om die berg en sy prag op sy beste te aanskou, moet jy veld toe. Hiervoor is die Klipkershoutwandelroete geskik. Jy parkeer by die Taalmonument en volg dan die roete al langs die suidelike hange van die berg tot bo, waarvandaan jy wes swenk in die rigting van Krismiskamp. Uit en tuis duur dit sowat twee uur, maar onthou, dit is maar net ’n klein deel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article