’n Geliefde oudpolisieman van die Paarl, kapt. Charles Daniels (59), is verlede week skielik aan ’n hartaanval dood.
Daniels was ’n gesoute polisieman wat aan die einde van Oktober verlede jaar – ná 34 jaar se diens – uit die diens getree het.
Hy was ’n gebore en getoë Paarliet en het by Paulus Joubert Sekondêr skoolgegaan. Ná matriek het hy by die polisie aangesluit en sy opleiding by die Phillipi-polisiekollege voltooi.
Hierna het Daniels sy formele loopbaan in die polisie by die parlement in Kaapstad begin. Hy is toe Paarl toe verplaas, waar hy verskeie sleutelrolle vervul het.
As jong man was Daniels ook ’n kranige rugbyspeler en het vir die Paarlse klub Riverstones uitgedraf. Hy was steeds in sy later jare baie betrokke by die klub.
Daniels se dogter Iinge sê sy dood was ’n reuseskok vir die familie. Hy was nog baie gesond en aktief.
Iinge vertel dat haar pa juis vroeë aftrede geneem het om meer tyd saam met sy familie deur te bring en te ontspan, veral ná baie jare se harde werk en lang ure as polisieman. Hy en sy vrou, Desiree, het vroeër vanjaar na Thailand op vakansie gereis.
“Ons en die gemeenskap het ’n ware steunpilaar verloor,” sê Iinge.
“My pa was altyd ’n klankbord vir die gemeenskap en wou mense graag help.
“Hy was ’n streng man, maar met ’n sagte hart.
“Hy was ’n baie goeie man vir ons ma, pa vir ons asook oupa vir sy twee kleinkinders.”
Charles word oorleef deur Desiree, sy kinders Iinge, Weylin en Dominic, asook kleinkinders, Mika-il en Aqeed.
Die begrafnis word op 12 Oktober om 10:00 by die VGK Hugenote in Klein Drakensteinweg, Paarl gehou.