Boland Landbouskool het die afgelope naweek sy staal by die St. John’s College-rugbyfees gewys.


Dit was ’n besige Paas-tydperk vir plaaslike skole op die rugbyveld, met verskeie Paas-toernooie wat plaasgevind het.

By King Edward VII-skool in Johannesburg se Paastoernooi het twee drieë deur die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) se plaasvervangerhaker, Christiaan Grundling, sy span gehelp om Pretoria Boys High met 24-8 in ’n klipharde kragmeting te troef.

Grundling se tweede drie – ’n skitterende drie nadat die sirene vir die einde van die wedstryd reeds gelui het – het verseker dat die telling die Paarliete ietwat vlei.

Vir Boishaai was Viaan Mentoor (losskakel) en Rubin Dames (flank) op hul stukke, terwyl die Pretorianers se Tumisho Motswi (losskakel) ook tevrede kan voel met sy vertoning.

Reeds in die hoofwedstryd van die eerste dag van die King Edward VII Paastoernooi het die gasheer teen die Hoër Jongenskool Paarl die knie met 7-22 gebuig.

Die Hoër Landbouskool Boland het klipharde rugby by die St. John’s College in Johannesburg se Paastoernooi gespeel en geen genade teenoor die Hoërskool Hans Moore getoon nie – met ’n wegholsege van 59-0.

Hilton College het egter hierna in ’n klipharde en opwindende hoofwedstryd die Landbouers naelskraaps met 17-14 geklo.

Boland Landbou se heelagter, Retagen van Rooi, was op sy stukke in die laaste vesting.

Van Rooi draf gewoonlik vir Boland Landbou op losskakel uit, maar het gewys dat hy met sy flink voetwerk net so gemaklik in die posisie as heelagter is.

In die Noord-Suid-toernooi het Paarl Gimnasium ook ’n wegholsege van 75-10 teenoor Pretoria Boys’ High se span behaal.

Boishaai het in ’n titaniese stryd teen Garsfontein in die laaste vier minute drie keer gaan druk om ’n naelbytsege van 38-36 teen die Bere van Pretoria te beklink.

You need to be Logged In to leave a comment.