Die Paarl se rugbymag in skolegeledere is vanjaar onmiskenbaar met Paarl Gimnasium en Hoër Jongenskool Paarl wat beide bo-aan die skolerugby punteleer troon ná indrukwekkende oorwinnings teen tradisioneel sterk opponente.
Paarl Gimnasium het hul onoorwonne status vir die 2025-seisoen behou ná ‘n taai stryd teen Paul Roos Gimnasium in modderige toestande op die historiese Markotter-veld in Stellenbosch. Die eindtelling van 17-10 weerspieël die intensiteit van die wedstryd, met die Paarliete wat drie drieë gedruk het.
Binnesenter Ethan Barker was die ster van die dag vir die Gimmies met twee drieë, terwyl losskakel Louis Koen ook sy naam op die telkaart geskryf het. Paul Roos se punte het gekom van flank Luke Kent en vaskopstut Gerrit van Vuuren, maar beide drieë is onvervyf gelaat wat uiteindelik ‘n groot verskil gemaak het.
Intussen het die Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) in ‘n naelbyt wedstryd Grey College Bloemfontein met 25-10 verslaan op Brug Straat-stadion – hul eerste oorwinning teen Grey sedert 2017.
Die wedstryd het aanvanklik uitdagend begin vir die tuisspan wat met rustyd met 10-5 agter was nadat vleuel Kaleb Holmes se vroeë drie beantwoord is deur Grey College se vaskopstut JG Badenhorst en losskakel Darius Erwee.
Die tweede helfte het egter aan die Paarliete behoort. Met hernude dryfkrag het loskopstut Jordan Jooste en buitesenter Tristan Joubert drieë gedruk, terwyl Iwan Jordaan uitgeblink het met die skopskoen deur twee doelskoppe en twee strafdoele oor te stuur.
Hierdie resultate beklemtoon weer die Paarl-skole se reputasie as rugbykraghuise in Suid-Afrika. Die prestasie is veral merkwaardig aangesien beide skole tradisionele rugbyreuse verslaan het – Paul Roos wat bekend staan as een van die voorste rugbyskole in die Wes-Kaap, en Grey College wat lank reeds as die toonaangewende rugbyskool in die land beskou word.
Met beide Gim en Boishaai wat hierdie seisoen uitmuntende vorm toon, groei die afwagting om te sien of hierdie twee gedugte spanne hul uitstekende vorm kan voortsit wanneer hulle later vanjaar in die tradisionele derby teen mekaar te staan kom.
Die sukses van beide Paarlse rugbyspanne bevestig weereens die Paarl-streek se reputasie as ‘n broeikas vir rugbytalent en -tradisie in Suid-Afrika.