Paarl se Mienke wen toekenning

Die Paarlse aktrise Mienke Ehlers is by die gesogte Silwerskerm­toekennings vir film en televisie aangewys as beste nuweling in ’n telenovela of sepie vir haar rol in Wyfie.

Die Paarlse Mienke Ehlers, akteur en oud- Girls’ Higher, is by die Silwerskermfees as die beste nuweling in ’n telenovela of sepie vir haar rol in Wyfie aangewys.Foto:


Die Paarlse aktrise Mienke Ehlers is by die gesogte Silwerskerm­toekennings vir film en televisie aangewys as beste nuweling in ’n telenovela of sepie vir haar rol in Wyfie.

Die kykNET-Silwerskermtoekennings is Saterdag (31 Augustus) tydens ’n uitskieter-gala by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) oorhandig.

Mienke het die rol van die universiteit­student Mia Meyer In Wyfie vertolk.

“Mia is braaf, sy is roekeloos en sy maak my soms bang. Sy is iemand wat die lug uit ’n vertrek suig as sy daar inloop,” sê Mienke.

Mienke, ’n oud-leerder van die Hoër Meisieskool Paarl Girls, het vandeesweek aan Paarl Post vertel hoewel sy as afdelingsfinalis vir die Silwerskerm-toekennings aangewys is, was dit ’n groot verrassing toe haar naam as wenner uitgeroep is.

“Daar was ander baie talentvolle benoemings. Ek was verheug en baie emosioneel ook,” sê Mienke.

“Ek werk nie om pryse te wen nie, maar hierdie is ongelooflik.”

Mienke het ná skool drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Sy het daarna haar honneursgraad in toneelspel by die Afda-rolprentskool verwerf.

Sy het reeds in haar jare op skool geweet sy wil ’n akteur word.

“Ek het in ’n huis grootgeword waar my ouers my en my sussie rêrig enige gesprek by die grootmenstafel oopgemaak het. En ek het baie vroeg begin redeneer en gepraat oor wêreldkwessies en argumente gehad en ons het sommer debat by ons huisvergaderings op Sondae gehad.

“Ek dink die feit dat my ouers vir my die wêreld baie klein gemaak het deur my te hoor en te sien, het my rêrig in myself laat glo wat toneelspel betref. Wesenlik is toneelspel vir my jy wat jou emosionele intelligensie heeldag beoefen en jy probeer net scenarios met emosies uitbeeld. Ek is toegelaat om dit in my persoonlike lewe te doen en dit was iets wat ek geweet het ek vir ewig wou doen.”

Mienke se pad na die silwerskerm was wel ’n bietjie langer.

“Ek het alles behalwe toneelspel vir die eerste vyf jaar van my loopbaan gedoen. Soos elke goeie aktrise was ek ’n kelnerin, ’n persoonlike afrigter, kosstilis . . . Ek het lank agter die skerms in die kostuumafdeling en die kunsdepartement gewerk. Ek was dus redelik georiënteerd met ’n filmstel voordat ek as akteur opgedaag het en ek dink dít het my baie geleer oor film-etiket en dat jy net ’n spanspeler in die proses is.

“Ek het my eerste groot rol drie jaar terug op ’n kykNET-reeks gekry, dus is ek nog nat agter die ore met nog baie om te leer, maar regtig ongelooflik dankbaar om hier te wees.”

Ná 90 episodes van Wyfie het Mienke aan die einde van Julie klaargemaak en vir ’n maand lank ’n welverdiende ruskans geniet.

“Dit is baie intensiewe werk om aan so ’n reeks te skiet – 12 ure per dag op stel en ses dae ’n week. Dit is dan belangrik om ’n breek te vat van jou werk en te regroup.”

Mienke sê sy het tans niks in die pyplyn nie, maar in die vermaaklikheidsbedryf kan enigiets enige oomblik gebeur.

“Toneelspel is my eerste liefde, maar ek is ook vaardig agter die skerms. My groot droom is om eendag my eie draaiboek te skryf en ’n rolprent te maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.