Die kranige Springbok- rugbyspeler Kurt-Lee Arendse van die Paarl is besig om een van die bekendste spelers in wêreldrugby te word ná puik vertonings in die Groen-en-Goud.
Dit nadat hy bykans die hele land se mense Saterdag op hul voete gehad het met sy pragtige vertoning in die Springbokke se toets teen Australië. Hier het die Bokke letterlik Wallaby-biltong vir ontbyt geëet met hul oorwinning van 43-12.
Dié oud-leerder van Paulus Joubert Sekondêr in die Paarl het gesorg vir ’n driekuns pragdrieë in die wedstryd. Dit bring die vleuel se drieë-telling as Springbok tot tien toetsdrieë in slegs agt toetse wat hy in die Groen- en-Goud uitdraf.
Boonop is Kurt-Lee met die eindfluitjie as Speler van die Wedstryd gekroon.
Sy pad na roem het gewis nie maklik gekom nie. Die feit dat hy eers ses jaar ná skool sy senior Curriebeker-buiging gemaak het, spreek boekdele. Gewoonlik maak spelers tussen twee en drie jaar ná skool hul merk op senior vlak.
Voordat Arendse in Curriebeker-wedstryde gespeel het, het hy eers as Springbok 7’s-speler naam gemaak.
Dit is byna seker dat Kurt-Lee later vanjaar in die Rugbywêreldbeker se Springbokgroep ingesluit sal wees wat in Frankryk gaan plaasvind.