Hannah de Waal, ’n oud-leerder van die Paarl Hoër Meisieskool, het pas ’n epiese uitdaging voltooi deur aan die Mad2Run-aflos van Johannesburg na Kaapstad deel te neem.
Hierdie reuse-uitdaging het van 11 tot 20 Oktober plaasgevind, met 32 atlete wat oor Suid-Afrika heen oor agt dae – deurnag en regdeur die dag – gehardloop het om ’n afstand van 1 520 km af te lê – alles ter ondersteuning van die MAD Leadership Foundation, wat daarop fokus om jong leiers deur middel van opvoeding te ontwikkel.
Hannah, wat aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het en nou as fisioterapeut praktiseer, het aan Paarl Post verduidelik hoe sy tydens die covid-pandemie met hardloop begin het as ’n manier om stres te verlig.
Wat as ’n ontspanningsaktiwiteit begin het, het gou gegroei tot deelname aan halfmarathons en nou hierdie ongelooflike uitdaging.
Vroeër vanjaar het ’n vriendin van Hannah, Anien Adendorff, haar uitgedaag om die Mad2Run-uitdaging aan te pak. Dit het nie baie oortuiging geveg voor Hannah aan boord was nie.
Op Vrydag 11 Oktober spring die 32 atlete toe weg van die Alberton Spur in Gauteng. Hul eerste dag neem hulle deur die strate van Johannesburg tot aan die buitewyke in die rigting van die Vrystaat.
Hul roete het hulle weg van besige paaie gehou, maar het steeds in dieselfde rigting as die N1 na Kaapstad beweeg. Eers in die Vrystaat het hulle meestal op grondpaaie gehardloop.
Hannah vertel dat hulle in spanne opgedeel is en die uitdaging is in ’n aflos-styl gehardloop en deelnemers moes elke dag ten minste 10 km aflê. Baie van die atlete, soos Hannah, het persoonlike uitdagings gestel en sy het dikwels meer as 20 km per dag afgelê.
Van Colesberg af slaan hulle die rigting van Victoria-Wes in en nog verder deur die dorre Karoo, tot in die Tankwa-Karoo en van daar na Ceres, oor Bainskloofpas, Wellington en Paarl verby, tot en met Vrydag se groot aankoms deur die strate van Kaapstad met die eindpunt by die Waterfront.
Hannah vertel van die uitdagings waardeur sy en haar spanmaats in die gesig gestaar is tydens die reis deur veral die Vrystaat en die Karoo.
“Om op enige tyd van die dag of nag te hardloop, soms in baie hoë temperature oor die uitgestrekte en dorre land, en dan weer in yskoue nagte, was baie moeilik,” sê sy.
Maar sy het dit geniet om die land op ’n ander en meer ontspanne manier te sien en die natuurlike skoonheid daarvan te waardeer.
Ten spyte van die uitputting sê sy dat sy die avontuur uiters voordelig gevind het. Ná hul aankoms Vrydag in Kaapstad het Hannah en haar spanmaat, Anien Adendorf, wat haar oorreed het om aan Mad2Run deel te neem, Saterdag ’n welverdiende rusdag geneem. Sondag het die hele span die Sanlam-Kaapstad-maraton van 42,4 km gehardloop as die finale mylpaal van hul epiese reis.
Die Mad2Run-relais is ’n geldinsamelingsinisiatief wat in 2014 begin is om vir die MAD Leadership Foundation geld in te samel. Dié organisasie fokus op leierskapsontwikkeling deur opvoeding, met die doel om akademies begaafde leerders te identifiseer wat nie oor die finansiële middele beskik nie, en hulle te ondersteun met onderwys, mentorskap, loopbaanleiding en lewensvaardighede.
Vanjaar het die span ’n nuwe doelwit gestel om R1 miljoen in te samel vir MAD – ’n poging om jong leiers te ondersteun wat uiteindelik ’n groot verskil in hul gemeenskappe sal kan maak.
Mad2Run se visie is om ’n klein verskil te maak in die lewe van enkele individue, wat dan ’n groot invloed in hul gemeenskappe sal hê.
Die span het daagliks gemiddeld 250 km afgelê, met enige twee atlete wat 24 uur per dag gehardloop het.
Hannah se deelname aan hierdie unieke en uitdagende wedloop is nie net ’n bewys van haar persoonlike toewyding nie, maar ook van haar passie om ’n verskil in ander se lewe te maak.
“Dit was ’n avontuur van ’n leeftyd, en hoewel dit baie moeilik was, was dit ongelooflik lonend,” sê sy.
Mad2Run is ’n bewys daarvan dat ’n mens met ’n groot hart en die wil om ’n bietjie “mal” te wees ’n groot verskil kan maak.
. Besoek gerus www.mad2run.co.za of volg hul Facebook-blad by www.facebook.com/Mad2Run vir meer inligting.