Celeste Klem en Erika le Roux pronk met hul toekennings by die onlangse Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue se jaarlikse toekenningsgeleentheid.

’n Groot eer het twee sakevroue van die Paarl toegeval toe hulle die afgelope naweek met toekennings vir hul harde werk en bydraes tot die sakewêreld vereer is – nie net op tuisbodem nie, maar ook provinsiaal en nasionaal.

Celeste Klem en Erika le Roux is Saterdag (18 Oktober) onderskeidelik as Entrepreneur van die jaar vir 2025 en Streeksleier van die jaar vir 2025 by die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue (SACBW) se jaarlikse gala gekroon. Die geleentheid het in Mbombela in Mpumalanga plaasgevind.

Klem is die mede-eienaar en hoofbestuurder van Hotel du Vin en Café du Vin in Franschhoek en spog met ’n suksesvolle loopbaan in die gasvryheidsbedryf. Die nuutste toekenning is ’n goeie toevoeging tot haar reeds lang lys pryse. Sy het voorheen aan Paarl Post gesê sy maak dit haar missie as leier in die werksplek om toe te sien dat haar kollegas met respek hanteer word.

LEES OOK: Formidabele vrou staan nie terug

Volgens Klem voel sy “ongelooflik dankbaar en nederig” oor die onlangse erkenning en toekenning.

“Om as Entrepreneur van die jaar vir 2025 deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue aangewys te word, is nie net ’n persoonlike prestasie nie, maar ’n weerspieëling van die Here se guns op my lewe en die ongelooflike mense wat saam met my hierdie pad stap,” sê sy.

“Hierdie eer herinner my daaraan dat harde werk, deursettingsvermoë en ’n opregte liefde vir mense altyd sin maak. Ek dink aan elke uitdaging wat my sterker gemaak het, elke kans wat ek gewaag het, en elke mens wat in my geglo het – hierdie toekenning behoort aan al ons werknemers ook. Ek voel trots, maar bowenal dankbaar – vir my span, my familie en die Paarl-gemeenskap – om elke dag iets betekenisvol te bou.”

Le Roux is ’n wonderlike leier om mee rekening te hou wanneer dit by kom by die bemagtiging van vroue in die sakewêreld. Sy is nie sommer net so met haar toekenning as die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue se streeksleier van die jaar vereer nie – sy het dit uit en uit verdien.

Le Roux is oorspronklik van Albertinia en werks tans as prokureur, aktevervaardiger en notaris by Faure & Faure Ing. in die Paarl. Sy het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Langenhoven voltooi, waarna sy aan die Universiteit Stellenbosch regte gaan studeer het.

“Ek is in 2022 as prokureur en aktevervaardiger toegelaat en het in Januarie 2022 by Faure & Faure as aktevervaardiger begin. Ek is in 2023 verder as notaris toegelaat. Ek het ook in 2022 ’n tak vir die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue in die Paarl gestig en was die takleier vir twee jaar.

“Die raad is ’n platform wat al sedert 1988 bestaan met die hooffokus van bemagtiging van vroue in die sakewêreld en die skep van ’n platform waar sakevroue netwerk kan doen en hul ondernemings laat groei. Ek is in 2025 as streeksleier vir ’n gedeelte van die Wes-Kaap aangestel, waar vyf takke onder my geval het. My mandaat is om leiding aan die takleiers te bied om hul takke te groei en die visie en missie van die raad ten volle na te jaag,” vertel Le Roux.

Oor haar toekenning sê sy: “Ek voel ongelooflik bevoorreg dat ek die [prys] ontvang het. Dit is ’n groot verantwoordelikheid om as mentor, leier en voorbeeld vir ander sakevroue en takleiers op te tree. Ek moet egter byvoeg dat ek nie die volle eer vir die toekenning kan kry nie – ek sou dit nie sonder my Hemelse Vader se leiding, my takleiers se respek en samewerking en die lede van die raad se ondersteuning kon ontvang nie. Ek doen dit alles tog vir hulle; dus, wat ’n wonderlike voorreg!”

Le Roux meen haar geheim vir ’n suksesvolle sakeonderneming is die feit dat jy dit nie alleen kan doen nie.

“Moet nooit bang wees om uit te reik en om hulp, raad en ondersteuning te vra nie. Always remember that we are stronger together!

Kontak Erika le Roux per e-pos by wc1@sacbw.org vir nog inligting oor die ⁠Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue en hoe om daarby betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.