Léchaan Cupido wat haar rugbyspeler-kêrel, Keenan Williams, langs die veld ondersteun het, het nooit gedroom dat wanneer die eindfluitjie van die rugbywedstryd sou blaas, dit ’n nuwe begin vir hulle albei sou beteken nie.
Die sprokie het die afgelope Saterdag, 20 Augustus, in die Dal Josafat-stadion plaasgevind kort nadat die Albions-rugbyklub, waarvoor Williams speel, hul wedstryd teen die Kraaifontein-rugbyklub gewen het.
“Ná elke rugbywedstryd gaan ek op die veld om Keenan geluk te wens, en om ’n foto te neem,” het Cupido verduidelik.
Hierdie scenario was dus die perfekte geleentheid vir Williams om op een knie af te gaan omdat Cupido dit nie sou verwag nie.
“Terwyl ons twee besig was om foto’s te neem, het die res van die spelers my geroep om foto’s van die hele rugbyspan ook te neem. Ek hoor toe go Stevie go, en toe sien ek hier staan die man op en gaan op sy knieë in die einste stadion waar hy my gevra het om sy meisie te word,” het Cupido gesê.
Cupido en Williams se liefdesverhaal strek nege jaar terug toe hulle in die hoërskool met hul verhouding begin het.
Hierdie twee verloofdes was nie net saam op skool nie, maar was ook in dieselfde klas en was eers vriende voordat hulle ’n paartjie geword het.
“Ek het glad nie verwag dat Keenan my Saterdag gaan vra om verloof te raak nie, maar ek het wel geweet hy gaan my vra, want ons dogtertjie het twee weke gelede vir my die ring gewys,” het Cupido verduidelik. “Haar pa was nie baie gelukkig daaroor nie.”
Cupido en Williams se trouklokke gaan volgende jaar September lui, wat hulle ’n jaar gee om as verloofdes die lewe te geniet. Cupido werk by Kleine Parc Nursery School, en Williams by HG Molenaar in die Paarl. Hy speel losskakel vir die Albions-rugbyklub. . A young woman had a pleasant surprise on Saturday when she went onto the rugby field to congratulate her boyfriend on his game. The next moment he went on his knee and proposed to her.


