Die Paarl-vallei kan trots wees op nóg een van hul skole – Hoërskool Labori is onlangs vereer as die derde top tegniese hoërskool in die Wes-Kaap.
Debbie Schäfer, die provinsie se minister van onderwys, het dit by die 2019- Nasionale Senior Sertifikaat-prysuitdeling aangekondig.
Die skool volg Hoër Tegniese Skool Drostdy (in die tweede plek) en Langenhoven Gimnasium (in die eerste plek). Die skole is gemeet aan die uitnemendheid in hul akademiese prestasie.
Johan Batt, die skoolhoof, is “vreeslik trots” daarop dat Labori gereken word as een van die beste tegniese skool in die Wes-Kaap.
“Dit dui daarop dat ouers begin om die waarde van tegniese skole te besef en dat ’n skool soos Labori gewis nie daar is vir leerlinge wat akademies sukkel nie. Die vakke wiskunde en fisiese wetenskappe is verpligtend vir leerlinge in die tegniese rigting en dit maak dit een van dié moeilikste vakkombinasies om in matriek te slaag,” sê Batt.
Volgens Batt was dit nie die enigste erkenning wat die skool ontvang het nie.
“Die skool het ook ’n prys losgeslaan vir die grootste toename in die persentasie van kandidate wat toegang tot Baccalaureus-graadstudie [universiteitstoelating] in die tydperk 2017 tot 2019 verkry het.”
Hy is vasbeslote dat hierdie suksesse moontlik gemaak is deur die goeie onderwysers by die skool, tesame met die waardes en dissipline waaraan die skool glo.
Nog twee skole wat die WKOD se erelys vir 2019 gehaal het, was die Hoër Meisieskool Paarl (HMS) wat die 13de plek behaal het, en Hoër Meisieskool La Rochelle in die 15de plek onder die top-20-skole in die provinsie met ’n NSS-inskrywing van 30 of meer kandidate (insluitend onafhanklike skole) wat in 2019 uitnemendheid in akademiese uitslae behaal het.
HMS Paarl is ook vereer as die skool in die provinsie wat die hoogste slaagsyfer in Afrikaans as huistaal behaal het.