Paarl pronk weer trots met ’n klompie Springbok-rugbyspelers wat gekies is vir die Wêreldbeker Bok-groep wat op pad is na Frankryk vir die Rugbywêreldbeker wat in September in Frankryk afskop.
Die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, het verlede Dinsdag in Johannesburg die verdedigende kampioen se groep van 33 spelers vir die 2023-weergawe bekend gemaak.
Nienaber se span het ’n sterk mengsel van ervaring en van die beste opkomende jong spelers in die land gehad.
Die Paarlse bydra tot die span is Canan Moodie, ’n oudleerder van Boland Landbouskool, Frans Malherbe (Hoër Jongenskool Paarl), Kurt-Lee Arendse (Paulus Joubert Sekonder), Vincent Koch (Hugenote Hoërskool) en Grant Williams (Hoërskool Paarl Gimnasium).
Daar is wel teleurstelling vir oud-Gimmie, die losskakel Handre Pollard, wie deel was van die begin-XV van die sege van 32-12 oor Engeland in Japan vier jaar gelede, wat uitgesluit is weens ’n besering.
Die Springbok-afrigters is wel hoopvol dat hy voor die aanvang van die toernooi na volle oefening kan terugkeer en beskikbaar sal wees vir inroep in die geval van ’n besering.
Vir Malherbe en Koch, albei stutte, is dit ’n herbesoek aan die Wêreldbeker nadat hulle ook in 2019 in die Springbokspan ingesluit was. Maar vir veelsydige agterspelers Moodie en Arendse, en skrumskakel Williams, is dit hul eerste verskyning op die Wêreldbeker verhoog.
Moodie is ook op 20-jarige ouderdom die jongste Springbok in die groep.
• Die Rugby Wêreldbeker skop op 8 September af in Parys by Stad de France, wanneer die gasheerland Frankryk, die All Blacks pak om 21:15.
Die Springbokke begin hul Wêreldbekeraanslag op 10 September teen Skotland om 17:45. Op 17 September speel hulle om 15:00 teen Roemenië; op 23 September om 21:00 teen Ierland en die laaste van hul uitspeelwedstryde is teen Tonga op 1 Oktober om 21:00.
Die kwarteindstryde van die WB vind plaas op 14 en 15 Oktober plaas, die semifinale op 20 en 21 Oktober en dan gaan die aarde behoorlik bewe wanneer die eindstryd plaasvind op 28 Oktober.