Bo is die Paarl Post-span met die gesogte Cronwright-trofee, van links Heleen Rossouw, Chantelle Hartebeest, Lise Beyers en Liezl Davids.Foto:


Paarl Post het vanjaar weer eens die Cronwright-trofee gewen by die AVBOB FCJ toekennings as beste betaalde gemeenskapskoerant in koöperatiewe besit in Suid-Afrika met ’n sirkulasie van meer as 5 000.

Die AVBOB FCJ-toekennings vir uitmuntendheid, aangebied deur die Forum van Gemeenskapsjoernaliste (FCJ), het ’n bekende geleentheid in die mediabedryf geword en die aantal individuele inskrywings het vanjaar byna verdubbel van verlede jaar.

Die wenners is Vrydagaand by ’n glansgeleentheid in die Cape Sun-hotel in Kaapstad aangekondig.

Lise Beyers, redakteur van Paarl Post, het ook tweede geëindig in die kategorie vir die beste rubrieke en was onder die top-10 finaliste vir die afdelings redakteursmenings asook algemene fotografie.

Die Paarl Post-joernalis Chantelle Hartebeest was ook onder die top-10 in die katogorie fotograaf van die jaar.

Die voormalige Paarl Post-joernalis Liezl Davids was ook onder die top-10 vir mense-en-gemeenskap-stories.

AVBOB het die FCJ deur sy finansiële belegging in die Forum en die bedryf, sowel as die voortdurende ondersteuning van Caxton en Media24 toegelaat om sy aanbod en ondersteuning aan lede – gemeenskapsjoernaliste – verder te verryk. Sonder hierdie ondersteuning, veral van AVBOB, sal die Forum dit nie kan doen nie.

In sy toespraak het AVBOB se uitvoerende hoof, Carl van der Riet, gesê: “As ’n besigheid is AVBOB diep gewortel in en verbind met die gemeenskappe waarin ons werk. Dit word weerspieël in ons ondersteuning vir gemeenskapsjoernalistiek. Ons prys jou werk om ons gemeenskappe ingelig te hou en met inligting te bemagtig. Volgens die Verenigde Nasies kan daar sonder vryheid van die pers geen ‘regte demokratiese samelewings’ wees nie. Jou werk is ’n noodsaaklike bydrae tot die bou van ’n deursigtige en vrye samelewing.

“Net so is die verhouding tussen die media en die breër samelewing van kritieke belang op baie vlakke om gemarginaliseerde gemeenskappe ’n stem te gee oor kwessies wat hulle raak en om hulle te bemagtig met inligting en ’n begrip van die ontwikkelende sosiale en politieke dinamiek rondom hulle. Die afwesigheid van media in gemarginaliseerde gemeenskappe lei tot ’n divergensie tussen verwagtinge en ervaring,” het Van der Riet bygevoeg.

Die Forum het ook sy nasionale seminaar voor die galadinee saam met die gassprekers Max du Preez en Latiefa Mobara, uitvoerende direkteur van die Persraad, aangebied. Die FCJ prys en bedank die beoordelaarspaneel en sameroeper Andre Gouws vir die fenomenale werk met die beoordeling.

You need to be Logged In to leave a comment.