Isabella Oliver van die Hoër Meisieskool Paarl se laerskool, is as Paarl Post se junior sportster van die maand vir haar deelname in tweekamp aangewys.Foto: Elana Oliver


Die 11-jarige Isabella Oliver, ’n gr. 5-leerder van die Hoër Meisieskool Paarl se laerskool, is vir haar deelname aan tweekamp as Paarl Postse junior sportster vir September aangewys.

Vanjaar was Isabella se “af” jaar in tweekamp, maar sy is mal oor die sport, dus het sy besluit om dit steeds hierdie jaar te beoefen, het Isabella se ma, Elana, verduidelik.

“Isabella is ’n gebore go-getter en was nog altyd lief daarvoor om haar lyf te beweeg,” sê haar ma.

Toe Isabella ’n advertensie van ’n tweekamp-kompetisie huis toe bring, was dit die begin van ’n suksesvolle sportloopbaan.

“Ons het geweet sy hou van hardloop, maar nie besef sy kan so lekker swem nie. Sy het toe begin en net nog nooit opgehou nie,” het Elana gesê en aangedui swem is gewis Isabella se sterkpunt.

Gedurende die somer-sportseisoen oefen Isabella twee dae per week atletiek en twee dae per week swem.

Buiten tweekamp beoefen Isabella talle ander sportsoorte ook.

“Sy doen alles wat sy kan. Sy speel lekker hokkie en netbal en het pas ook begin swem,” het Elana verduidelik.

Isabella verkeer ook gereeld sosiaal en is lief daarvoor om met haar maats, asook twee broers, buite te speel.

“Sy geniet ook Starbucks-dates saam met haar ma,” het Elana laggend uitgelap.

Isabella het aan die Bolandse tweekamp-kampioenskap op 26 Februarie in Wellington deelgeneem, en is na die Suid-Afrikaanse tweekampkampioenskap wat op 1 en 2 April in Gqeberha gehou is, waar sy 26ste geëindig het.

“Ons sien daarna uit om te kyk wat die lyfie in haar ‘aan’ jaar kan doen,” het haar ma gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.