Brig. Nokuzola Pete, die omstrede stasiebevelvoerder van die Paarl-polisiekantoor wat einde verlede jaar in die sop was nadat sy op Facebook gesê het dié polisiekantoor is “te wit”, het vandeesweek bedank.
Paarl Post het die nuus oor Pete se bedanking Woensdag (31 Januarie) by verskeie betroubare bronne bevestig.
Ian Cameron, ’n gemeenskapsveiligheidsaktivis verbonde aan die organisasie Action Society, het Pete se bedanking verwelkom.
Hy is een van talle aktiviste wat tugoptrede teen Pete geëis het.
“Hierdie is ’n reusesukses vir die Paarl-gemeenskap asook vir alle Suid-Afrikaners wat teen rassisme is. Dit is ’n sukses vir organisasies wat kragte saamgespan en nee gesê het vir haar gedrag as ’n sogenaamde leier.
“Die polisiediens moet op misdaadbekamping fokus en alle goeie burgers van hierdie land dien. Ons sal graag wil sien dat aanstellings voortaan volgens die bestaande riglyne binne die polisie, maar meer belangrik, op meriete gedoen word,” het Cameron Woensdag gesê.
Ronel Stander, verbonde aan Solidariteit, wat ook sedert die begin optrede teen Pete geëis het, het aan Paarl Post gesê die organisasie is “verheug” om van haar bedanking te verneem.
“Solidariteit het voortdurende druk uitgeoefen deur navrae oor vordering oor die skorsing en departementele stappe teen haar. Die boodskap wat ons hiermee wil uitstuur is dat die bestuur van die polisiediens moet weet hulle word dopgehou en dat ons sal toesien dat geregtigheid geskied,” het Stander gesê.
Pete het einde verlede jaar die uitlatings in ’n plasing op Facebook gemaak oor die Boland-polisiedistrik se jaareindbyeenkoms waarin sy in die kommentaarafdeling ’n gesprek met ’n kollega (’n luitenant-kolonel) van ’n ander stasie voer.
In een van haar kommentare sê Pete daar ontbreek juis ’n luitenant-kolonel in die finansiële afdeling van die Paarl-polisiekantoor en dat sy (die kollega) kan aansoek doen om ’n oorplasing.
“Stuur die aansoek in en sê jy moet na Paarl se finansiële afdeling oorgeplaas word. Ons sal dit teken sodat ons hierdie wit oorheersing kan verander, want Paarl is wit,” lui Pete se kommentaar.
Die oorspronklike plasing is intussen verwyder, maar skermgrepe daarvan is sedertdien wyd op sosiale media gedeel.


