Kol. Liticia Hans het vandeesmaand as die nuwe stasiebevelvoerder by die Paarl-Oos-polisiekantoor begin.Foto: Rasaad Adams


’n Nuwe stasiebevelvoerder is aan die stuur van die Paarl-Oos-polisie.

Kol. Liticia Hans sê sy sien baie daarna uit om hand-aan-hand saam met die Paarl-Oos-gemeenskap te werk.

Hans het vandeesmaand hier begin nadat die voormalige stasiebevelvoerder, kol. Wellington Stephans, in Julie vanjaar afgetree het.

“Eerstens kan ek met die volste vertroue sê my eerste prioriteit is om die gemeenskap van Paarl-Oos tot die beste van my vermoë te bedien en my lede by Paarl-Oos deel dieselfde visie. Dienslewering aan die gemeenskap sowel as misdaadbekamping tesame met doeltreffende polisiëring is my primêre objektief, asook my passie, en ek leef my passie elke dag uit deur my werk.

“Ek is ’n groot aanhanger van gemeenskapspolisiëring en ek is doodseker as die polisie en die gemeenskap hande vat, kan ons wondere verrig.”

Volgens Hans was sy voorheen bevelvoerder by twee ander polisiekantore.

Die mees onlangse polisiekantoor wat sy bestuur het, is die Cloetesville-polisie in Stellenbosch.

“As ek iets geleer het, dan is dit dat ons dienaars van die gemeenskap is en dat ons saam moet werk. Ek sien so baie uit daarna om met my gemeenskap in Paarl-Oos te werk. Dit wek ’n opgewondenheid in my hoe baie ons saam kan verrig.

“Ek wil elke gemeenskapslid bemoedig om na die polisiekantoor te kom met die vrymoedigheid vir enige hulp van enige aard. Ons werk is om daar te wees vir hulle.”

Ten spyte van die uitdagings wat die bestuur van ’n polisiekantoor soms in die gesig staar, soos die telefoonlyne wat tydens beurtkrag buite werking is, maak Hans dit duidelik dat die gemeenskap se belange steeds eerste kom.

“Uiteraard het ons gereeld uitdagings, soos telefoonlyne wat buite werking is, beurtkrag, ensovoorts, maar ons sal ons bes doen om hierdie tekortkominge so gou as moontlik die hoof te bied.

“Daarvolgens wil ek elke gemeenskapslid gerusstel – we will not conduct business as usual; we can make a difference together.”

.
A new station commander has been appointed at the Paarl East police station. Col. Liticia Hans says she is looking forward to working hand in hand with the community.

You need to be Logged In to leave a comment.