Paarl-Oos-Krieketklub (KK) het in sy laaste wedstryd van die seisoen in Boland Krieket se premierligakompetisie koning gekraai toe hy Paarl-KK oortuigend met agt paaltjies op die New Orleans-veld geklop het.
Die besoekers het besluit om eerste te kolf, maar dit was slegs aan Keagan Whitten (44, 4×4) te danke dat Paarl-KK ’n skamele 105 lopies bymekaar kon skraap. Die res van die kolwers het hul swakste vertoning van die seisoen gelewer teen die boulwerk van Jayden Booysen (2.5-0-11-3), Nathan Jacobs (7-1-15-2), Akhona Mnyaka (7-0-33-2) en Quan Daniels (10-4-25-2), wat almal uitstekend met die bal vertoon het.
Met die Protea Keagan Petersen as een van sy drie Gbets Rocks-spelers, het die tuisspan geen moeite ondervind om die teiken te haal nie. Tyrese De Louw (36 n.u.n., 5×4, 1×6) was in goeie vorm met die kolf en sy onoorwonne derde-paaltjievennootskap van 81 lopies met Petersen (49 n.u.n., 3×4, 3×6) het die knoop deurgehaak.
Henrico Albertus (5-0-26-2) was Paarl se beste bouler.
Paarl II het die klub se naam hoog gehou met ’n oorwinning van 143 lopies teen Paarl-Oos II op die Parysveld. Die tuisspan het ’n allemintige 263 lopies behaal. Paarl se Liam Muller het die skade met die bal aangerig om die besoekers vir 120 uit te boul.. Paarl speel Sondag op die Parysveld in sy laaste ligawedstryd teen die Victoriane, wat Paarl verlede maand op Coetzenburg geklop het.