Die Paarl-Noord-buurtwag tree saam met plaaslike veiligheidsmaatskappye proaktief op.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag het verlede week proaktief opgetree om misdaad te bekamp deur geleentheidsmisdadigers wat toeslaan wanneer vullisverwyderingsdienste in die gebied doenig is, in hul spore te stuit. Die buurtwag beplan nou om nóg meer op gemeenskapsveiligheid te fokus deur inwoners in staat te stel om hulself te beskerm.

Die buurtwag het onlangs in samewerking met plaaslike veiligheidsmaatskappye patrollies in Lang- en Aandblomstraat en by Langstraatbrug gery om misdadigers uit die gebied te hou.

Die lede het tussen 06:00 en 09:00 alle voetgangers se bewegings in die woonbuurt gemonitor. Fidelity ADT, Wolf Security Solutions, PACRS, Dogs and All Security Services en Vetus Schola was by die patrollering betrokke.

Jaco Prins, voorsitter van AfriForum se Paarl-Noord-tak, sê daar was al verskeie voorvalle waar mense wat deur vullisblikke grawe ook by huise in die gebied inbreek en helder oordag met gesteelde goedere uit dié gebied loop.

“Die teenwoordigheid van die buurtwag en ander private veiligheidsmaatskappye ontmoedig misdadigers om misdaad te pleeg, daarom was hierdie optrede so suksesvol,” sê Prins.

AfriForum wil ’n groter fokus op gemeenskapsveiligheid plaas, daarom beywer dié buurtwag hom om inwoners te help om hulself te verdedig.

. AfriForum se Paarl-Noord-tak bied eerskomende Saterdag (24 Februarie) ’n gratis selfverdediging-werksessie vir mans en vroue aan. Die sessie is saamgestel met die oog op uitdagings wat Suid-Afrikaners daagliks teëkom. Dit behels ook praktiese en doeltreffende tegnieke om veiligheidskwessies te hanteer.

Die tak nooi lede van die gemeenskap uit om aan die werksessie deel te neem.

. Datum: Saterdag 24 Februarie;

. Tyd: 09:30 vir 10:00 (Die sessie gaan ongeveer vier uur duur);

. Plek: Die Paarl Boxing Academy, The Towers-gebou, hoek van Lady Grey- en Hoofstraat, Paarl.

Daar is slegs 30 plekke beskikbaar, daarom moet besprekings so gou moontlik gemaak word. Stuur jou naam en van na Wena Bartie by 082 480 6905 om jou plek te verseker.

Raak betrokke by AfriForum se Paarl-Noord-buurtwag en help om jou omgewing veilig te hou. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article