Paarl II het Saterdag bewys sy T20-oorwinning oor Worcester United II twee weke gelede was geen gelukskoot nie toe hy sy weg-wedstryd in die Reserweliga van Krieket Boland se 50-boulbeurt-kompetisie gemaklik met 18 lopies gewen het.

Paarl II het in Worcester, met ’n totaal van slegs 126, die tuisspan met 31.2 boulbeurte vir 108 uitgehaal.

Paarl is eerste ingestuur en was vroeg in die moeilikheid (26/3), totdat Keagan Whitten (40, 3×4) hom by sy kaptein, Aqeeb Doman (36, 6×4), aangesluit het vir ’n vierdepaaltjie-vennootskap van 68 lopies. Whitten het goed vertoon in sy eerste wedstryd van die seisoen om die besoekers se beurt ’n bietjie aansien te gee.

Jamie Joseph (9.4-1-19-3) en Victor Jansen (7-1-22-4) het vir die tuisspan met die bal uitgeblink.

Jansen (31, 3×4) het ook met die kolf beïndruk, maar slegs twee ander kolwers kon dubbelsyfers vir Worcester kry. Edrique Cook (10-1-21-3) Douman (4-0-18-2) en Taywin Adams (8-2-13-2) het die skade met die bal vir die besoekers aangerig.

Saterdag speel Paarl II tuis teen Bergrivier, terwyl die seniorspan Sondag op die Pen Basson-veld in Wellington teen Bergrivier te staan sal kom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article