Die moordbeskuldigde Christo Isaacs stap Dinsdag (4 November) by die Paarl-streekhof uit. Foto: Rasaad Adams
Die moordbeskuldigde Christo Isaacs stap Dinsdag (4 November) by die Paarl-streekhof uit. Foto: Rasaad Adams

Christo Isaacs, die man wat aangekla word van die steekmoord op ‘n Paarlse pa van drie kinders by ‘n plaaslike kroeg in Augustus verlede jaar, se prokureur het Dinsdag (4 November) aangevoer dat hy nou gaan pleit en dat die saak nie meer op verhoor gaan nie.

Die verhoor was vir 4 en 6 November vandeesweek geskeduleer.

Geoffrey Fredericks is op die aand van 24 Augustus verlede jaar by ‘n kroeg naby Jan van Riebeeckweg in Paarl herhaaldelik gesteek en toe later in die hospitaal dood.

Isaacs is van die moord aangekla nadat hy homself dae later aan die polisie oorgegee het.

Hy is toe deur die Paarl-landdroshof op R1 000 se borgtog vrygelaat voordat die saak na die Paarl-streekhof verwys is.

Die aanklagte is toe later van moord na moord met voorbedagte rade verander, waarvan die minimumvonnis lewenslange tronkstraf is.

Geoffrey Fredericks was 32 toe hy is Augustus verlede jaar vermoor is. Foto: Verskaf

Isaacs sou aanvanklik op 1 Julie vanjaar reeds gepleit het.

LEES OOK: Paarl-kroegmoord-saak reg vir verhoor

Die hof het toe op 1 Julie aangevoer dat die saak in November op verhoor sou gaan en dat die beplande pleitonderhandelinge van daardie tyd nie plaasgevind het nie.

“Ons was gereed om vandag voort te gaan met die verhoor maar die instruksies aan my het intussen verander,” het Isaacs se prokureur Dinsdag gesê.

Sy het gesê Isaacs gaan formele erkennings aan die hof maak en gevra dat die saak tot Donderdag (6 November) uitgestel word vir hom om met sy familie oor sy intensies te konsulteer.

Donderdag se bekentenis sal gemaak word ingevolge afdeling 112 in hoofstuk 17 van die Strafproseswet waar die landdros dan haar diskressie sal gebruik.

Dit verskil van afdeling 105 van die Strafproseswet waar die staat en die verdediging ‘n pleitooreenkoms bereik, wat ‘n vonnis insluit en dit dan deur die hof as sulks aanvaar word.

Die verdediging het in Julie aangevoer dat Isaacs met vandeesweek se verhoor skuld sou ontken en dat hy van drie getuies gebruik sal maak.

Isaacs sou ook self in sy verhoor getuig.

Die staat sou drie getuies roep.

Paarl Post verstaan dat een getuie teenwoordig was die aand van die beweerde moord.

You need to be Logged In to leave a comment.