Die familie van die vermoorde Geoffrey Fredericks, wat Dinsdag (1 Julie) sy 33ste verjaarsdag sou vier, sê hulle is verheug dat die moordsaak uiteindelik na ‘n kant toe kom nadat daar Dinsdag op ‘n verhoordatum vir November besluit is.
Fredericks se familie hoop om op 4 en 6 November antwoorde te kry oor die motief en presiese gebeure die aand van 24 Augustus verlede jaar, toe hy by ‘n kroeg in die Paarl vermoor is.
Hy is herhaaldelik met ‘n skerp voorwerp gesteek en het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Christo Isaacs (32) het hom etlike dae ná die beweerde moord aan die polisie oorgegee en is op 16 September deur die Paarl-landdroshof op R1 000- borgtog vrygelaat.
Isaacs se regsverteenwoordiger het by vandeesweek se verskyning volgehou dat die verdediging tydens die verhoor sal hou by sy argument dat dit nie Isaacs is wat Fredericks vermoor het nie.
Volgens die verdediging is ‘n uitkenningsparade nooit deur die polisie gehou nie.
Die verdediging het aangevoer Isaacs sal skuld ontken en dat hy van drie getuies gebruik sal maak.
Isaacs sal blykbaar ook self in sy verhoor getuig.
Die staat het egter op sy beurt die aanklagte na moord met voorbedagte rade verander.
Die landdros het Isaacs daaraan herinner dat hy lewenslange tronkstraf in die gesig staar as hy skuldig bevind word.
Drie getuies sal ook in November deur die staat geroep word.
Volgens die staat het hy die uitslae van alle toetse wat uitgevoer is, ontvang en sal dit deel van die bewysstukke vorm.
Fredericks se ma, Magdalena, was Dinsdag baie emosioneel toe sy die media buite die Paarl-streekhof toegespreek het.
“Ek het vanoggend na sy foto’s gekyk en besef ek kan net nie oor sy dood kom nie.
“Ons vier nou vandag sy 33ste verjaarsdag hier by die hofverrigtinge waar ek basies die moordenaar in die gesig moes staar.
“Ek weet nie of hy besef wat hy aan ons familie gedoen het nie.
“Besef hy hoe bitter is dit vir ons as ouers om te aanvaar dat ons kind nie meer daar is nie? Sy drie kinders vra ook gereeld na hom,” het sy in trane gesê.
“Die gemeenskap het ook nog so baie vrae. Maar ons weet die Here is in die saak.
“Ons weet wat ons in ons stille gebed vir Hom gevra het, het vanoggend tot vervulling gekom,” hy sy bygevoeg.
Sy sê die familie is verheug dat die saak nou op verhoor gaan, nadat Isaacs aanvanklik skuld sou beken en deur die hof gevonnis word sonder dat enige getuies oor daardie aand se gebeure praat.
Haar man, Godfrey Fredericks, het daarby gesê: “Nou sal ons kan weet, uit die monde van die getuies, wat regtig gebeur het en wat aanleiding tot die moord op ons seun gegee het.”