Christo Isaacs (31), die man wat aangekla word van die moord op ‘n Paarlse pa van drie, Geoffrey Fredericks (32), sal na verwagting op 1 Julie in die moordsaak pleit – op die dag wat Fredericks sy 33ste verjaarsdag sou gevier het.
Gemoedere het verlede Vrydag (9 Mei) buite die Paarl-streekshof hoog geloop nadat die beplande pleitooreenkoms nie aan die hof voorgelê is nie en die saak tot 1 Julie uitgestel is.
‘n Pleitooreenkoms is wanneer ‘n beskuldigde en die staat ooreenkom dat die beskuldigde, gewoonlik skuldig sal pleit en dan dan vir ‘n versagtende vonnis onderhandel.
Dit beteken ook dat die saak nie op verhoor sal gaan nie.
Familielede van beide Fredericks and Isaacs het verlede Vrydag die hof se gallery gevul.
Isaacs moes deur die hof se personeel van buite af geroep word waar hy met sy gesig bedek in een van sy vriende se voertuig gesit het.
Na Isaacs se verskyning het Fredericks se ma, Magdalena, buite die hof gesê sy is bly die saak “kom na ‘n kant toe”.
Volgens haar wil die familie die hoofstuk afsluit.
“Dit onstel my, as ‘n moeder, om te sien hoe hy [Isaacs] soos ‘n onskuldige man hier rondloop – met ‘n bedekte gesig. Dit feit bly staan – my kind se lewe is geneem en iemand sal verantwoording moet doen. Al wat ek weet, is dat my God nie slaap nie.”
Intussen het die staat aangevoer dat hy beplan om die klaagstaat in die moordsaak aan te pas.
Die staat het by vorige navraag gesê dat Isaacs van slegs moord aangekla word.
Paarl Post kon teen druktyd nie bevestig of enige bykomende aanklagte tot die klagstaat gevoeg sal word nie.

Isaacs het na bewering op die aand van 25 Augustus verlede jaar vir Fredericks by ‘n kroeg in Jan van Riebeeckweg in die Paarl herhaaldelik gesteek.
Vriende saam wie hy daardie aand by die kroeg was, het met hom na die Paarl-hospitaal gejaag, waar hy aan sy wonde beswyk het.
Isaacs het hom etlike dae ná die beweerde moord aan die polisie oorgegee en is op 16 September deur die Paarl- landdroshof op R1 000-borgtog vrygelaat.
Sy regsverteenwoordiger, verbonde aan die Ceres-gebaseerder regsfirma
Joubert van Vuuren-prokureurs, het die hof in Maart vanjaar daaraan herinner dat daar steeds ‘n dispuut oor die identiteit van die moordverdagte is.
LEES: Paarl-kroegmoord: Dispuut heers steeds oor wie pa van 3 doodgesteek het
‘n Identiteitsparade is glo nie deur die polisie uitgevoer nie.
Die staat het tot dusver ook geen ander verdagtes by die moordsaak betrek nie.







You must be logged in to post a comment.