Die Paarl-krieketklub het Saterdag in Stellenbosch hard geveg vir hul vyf-paaltjie-oorwinning teen die Van der Stel-krieketklub nadat die tuisspan besluit het om in hierdie 50-boulbeurt-Premierligawedstryd van die Boland eerste te kolf.
Soos in vorige seisoene was die linkshandige Byron Haycock (45, 1×4) weer ’n doring in die vlees van die besoekers, maar die akkurate boulwerk van die lenige Tylon Matthee (9.3-0-32-0) en die 16-jarige Juanrico Voster (6-1-9-1), het toegesien dat sy beurt 81 balle in beslag neem. Voster, ’n reuse-aanwins vir Paarl, het ’n vroeë deurbraak behaal toe Morne de Vries ’n blitsige dryfhou opgeraap het.
Haycock se tweedepaaltjie-vennootskap van 43 met Rikus Brand (113 balle) en 43 om die vierde paaltjie met Werner Brand (74 balle), het hul afrigter, Noor Rhode, erg frustreer.
Daarna het Paarl se draaiers, die kaptein, Waylain September (10-1-25-5) en Herschelle Poggenpoel (10-0-39-2) die krane verder toegedraai om die tuisspan tot 143 in 44,5 boulbeurte te beperk.
Poggenpoel (30 n.u.n, 4×4) het sy goeie kolfprestasie voortgesit, terwyl Voster (14 n.u.n.) die wenlopies kom moker het. Ander bydraes was van Lindley Hendricks (29, 2×4, 1×6), Akeem Minnaar (21, 2×4) en De Vries (27, 2×4). Theo Louwrens (4-0-12-2) het Van der Stel se beste boulsyfers behaal, maar Wynand Smit (10-1-25-1) was die beste bouler. Hy het die Paarliete tot die 48ste boulbeurt vir ’n sege laat swoeg.
Paarl het eerskomende Saterdag ’n loslootjie voordat hy sy T20-veldtog op 19 November met ’n wegwedstryd teen die Vredenburg-Saldanha-krieketklub begin.

