Die Paarl-krieketklub het verlede Saterdag op die New Orleans-veld sy spiere gebult in Boland Krieket se T20-Premierliga-kompetisie toe hy die Paarl-Oos-krieket­klub oortuigend met 42 lopies geklop het.

Paarl het besluit om eerste te kolf en ’n indrukwekkende 156/3 aangeteken, terwyl die tuisspan tot 114/9 beperk is.

Eerskomende naweek sluit Paarl die kompetisie af met tuiswedstryde teen Worcester United-krieketklub (Saterdag) en Wellington-krieketklub (Sondag), met die eindstryd op 18 November.

Weens Akeem Minnaar se ongesteldheid het Lindley Hendricks (96 nie uit nie; 64 balle) as aanvangskolwer oorgeneem en sy kans met beide hande aangegryp. Sy beurt het agt grenshoue en vyf sesse ingesluit, met ’n paar uitstekende trekhoue.

Sy derdepaaltjievennootskap van 85 lopies met Hlomla Hanabe (33) het die wind uit Paarl-Oos se seile gehaal, en hierna het Herschelle Poggenpoel by hom aangesluit vir ’n onoorwonne vennootskap van 56 om Paarl op die wenpad te plaas. Nathan Jacobs (4-1-28-1) het die beste boulsyfers behaal.

Paarl se nuwe linkerhandse snelbouler, die 16-jarige Taiwyn Adams (4-0-27-2), het beïndruk met sy vaart en vinnig met twee paaltjies toegeslaan.

Die tuisspan was op 23/5 met die rug teen die muur nadat Liam Muller (4-0-14-3) self ook sy stem kom dik maak het met die bal. Edrique Cook (2-0-13-2) het Paarl-Oos se rug geknak, hoewel Jacobs (35, 1×4, 3×6) hardnekkig vasgeskop het totdat hy deur die nuweling Henrico Albertus skoongeboul is.

Paarl II het ook beïndruk met sy 15 lopie-oorwinning in die voor­wedstryd, waar Waylin September ná ’n skoueroperasie teruggekeer het. Sy geduldige vyftigtal het die grondslag vir Paarl II se sege gelê.

Met twee tuiswedstryde wat voorlê, is Paarl II goed geplaas om die eindstryd te haal.

You need to be Logged In to leave a comment.