Jaywin Solomons (42 n.u.n.) het Sater­dag ’n vegtersbeurt vir die Paarl-krie­ketklub teen Victoriane gespeel.Foto:


Die Paarl-krieket­klub het verlede Saterdag met sy oortuigende sespaaltjie- oorwinning oor die Victoriane op die Parysvelde stewig vertoon en ’n bonuspunt in die eerste reeks van Krieket Boland se Premierliga verdien.

Hul ondersteuners verwag iets soortgelyks wanneer hulle eerskomende Saterdag tuis met Robertson KK, wat gemak­lik met Stellenbosch KK afgereken het, sal kragte meet.

Paarl se besluit om die besoekers in die versengende hitte in te stuur om te kolf, het vroeg vrugte afgewerp toe Jaden Adams (4-0-10-1) in die eerste boulbeurt toegeslaan het. Hy is goed bygestaan deur Liam Muller (6-1-17-1), maar dit was uiteindelik die draai- boulers wat die studente in ’n blik gedruk het.

Die kaptein, Adrian du Toit (10-1-18-3), Herschelle Poggen­poel (10-1-23-2) en Javier Visser (4.2-1-5-1) het goed saamgespan, maar die keerpunt was waar­skynlik Tylon Matthee se briljante veldwerk op die grens, wat toegesien het dat die gevaarlike Ethan Cunningham uitgehardloop word. James Kennedy (21) het die beste met die kolf gevaar, terwyl David Botes (15) en Connor Batt (14) ook dubbelsy­fers kon kry, maar hul span is vir 94 lopies in 39,2 boulbeurte uitgeboul.

Die tuisspan het wankelrig begin teen die vaart van Cunningham (6-1-25-3) en moes vasbyt op 14/3. Die linker­handse aanvangskolwer, Jaywin Solomons, het egter sy staal getoon met ’n onoorwonne 41 lopies (6×4 in 65 balle), met goeie ondersteuning van Du Toit (23), in ’n vierde-paaltjie-vennootskap van 49. Paarl (96/4) het die wedstryd in die 23ste boulbeurt beklink.. Paarl II speel Saterdag weg teen Robertson II, terwyl Paarl III ook reis vir hul wedstryd teen Riebeeck Warriors.

You need to be Logged In to leave a comment.