Die Paarl-krieketklub het verlede naweek op die Parysveld uitmuntend vertoon en die eerste T10-toernooi van die Drakenstein-streek gewen om sodoende die pragtrofee, geskenk deur Cell C, omhoog te hou.
Paarl het Sondag in die eindstryd teen Wellington-krieketklub te staan gekom. Die besoekers het die loot gewen, maar gesukkel om ’n teiken van 71 daar te stel. Slegs JJ Lambrecht (33, 2×4, 1×6) kon die mas opkom teen Paarl se knaende boulwerk, waar Waylain September (2-0-11-2) die hart uit die kolflys kom ruk het. Twee kolwers is onnodig uitgehardloop, terwyl Taigh Schoor, Grant Chordnum en Nathaniel Hendricks ook elk ’n paaltjie platgetrek het.
Die speler van die toernooi, Darryl Hendricks (44 van 16 balle, 5×4, 3×6), wat in die eindstryd sowel as die halfeindstryd teen Bergrivier ook die speler van die wedstryd was, was uit die staanspoor vernietigend met die kolf. Lambrecht se eerste boulbeurt het 18 lopies opgelewer en die wind uit Wellington se seile gehaal. Saam met die linkshandige Akeem Minnaar was Hendricks betrokke in ’n aanvangsvennootskap van 51 lopies. Minnaar, dwarsdeur die toernooi die anker, het die naweek vyf beurte gespeel sonder om sy paaltjie prys te gee. Hy en Herschelle Poggenpoel het die sewepaaltjieoorwinning beklink, met 11 balle oor.
Vroeër, in die halfeindstryde, het Paarl Bergrivier (65/8) met agt paaltjies geklop, terwyl Wellington met 19 lopies teen Paarl-Oos (54) baas was.
Die uitslae van Saterdag se uitspeelwedstryde was:
Afdeling A
Paarl klop Saron (55) met nege paaltjies;
Welligton klop Mbekweni (50/5) met 70 lopies;
Wellington klop Saron (40) met 69 lopies;
Saron klop Mbekweni (65) met ses lopies;
Paarl klop Wellington (59/6) met 40 lopies;
Paarl klop Mbekweni (38) met 71 lopies.
Afdeling B
Young People’s klop Drakenstein Edu (61) met sewe paaltjies;
Bergrivier (74) klop Drakenstein Edu (74) in ’n superboulbeurt;
Paarl-Oos klop Bergrivier (91/8) met 16 lopies;
Bergrivier klop Young People’s (76) met agt paaltjies
Paarl-Oos klop Drakenstein Edu (42) met 42 lopies;
Paarl-Oos klop Young People’s (61) met 20 lopies.
Die Premierliga-bepaling vir die eerste ronde van Boland se 50-boulbeurrt-kompetisie eerskomende Saterdag is:
Paarl weg teen Maties;
Paarl-Oos tuis teen Worcester United.


